--> -->
Spyskaart +

Hoekom ’n privaatvervolgingseenheid onontbeerlik is

Maart 14, 2019 deur Natasha Venter

Deur Natasha Venter

Stel jou voor dat jy die ouer van ’n gemolesteerde kind is maar geen mag het om hierdie gruweldaad stop te sit nie, want die persoon wat dit pleeg het genoeg geld om vervolging vry te spring en om die kind ook van jou af weg te hou. Tot watter remedie sal ’n raadop, magtelose ouer hom/haarself in só ’n geval kan wend?

Dít is waar AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel intree om te verseker dat reg en geregtigheid geskied. Die scenario wat hierbo beskryf is, is soortgelyk aan ’n saak wat dié eenheid tans aanpak nadat die ma van ’n minderjarige kind adv. Nel en sy span genader het oor haar kind se welgestelde oupa die kind na bewering verkrag het en nie deur die staat daarvoor vervolg word nie.

Vir enige persoon wat hom/haarself in só ’n situasie bevind, kan dit voel asof daar geen uitkomkans is nie. Enigeen is ingevolge die Strafproseswet by magte om privaat vervolging in te stel waar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versuim om te vervolg, maar dit is ’n baie duur en ingewikkelde proses vir die gewone mens op straat om aan te pak.

AfriForum het dié leemte in die strafregstelsel geïdentifiseer en daarom in 2017 ’n privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Nel op die been gebring. AfriForum is bekommerd oor die persepsie dat die NVG geneig is tot selektiewe vervolgings en dat almal klaarblyklik nie voor die reg gelyk is nie.

Die privaatvervolgingseenheid bied die geleentheid om vanuit die burgerlike samelewing te help verseker dat almal, ongeag posisie, gelyk is voor die reg en dat mense soos die oupa in hierdie saak teregstaan vir hul beweerde misdade. Die privaat vervolging van persone wat soveel mag en geld het om vervolging deur die NVG te ontduik, waarborg nie net gelykheid voor die reg nie; dit beskerm ook weerlose slagoffers teen gewetenlose misdadigers.