|

Hoekom moet publiek e-tol betaal as amptenare weier?

Deur Jhua-nine Wyrley-Birch


Die uitstaande e-tolskuld van ses plaaslike owerhede in Gauteng wat meer as R2,4 miljoen beloop, dra die boodskap uit dat plaaslike regerings hulself hoër ag as die belangstingbetalers wat die e-tolstelsel tans moet befonds.

So sê Wayne Duvenhage, voorsitter van die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) nadat dit aan die lig gekom het dat verskeie munisipaliteite in Gauteng die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) miljoene skuld.
Luidens mediaberigte het ses munisipaliteite se plaaslike owerhede uitstaande e-tolgeld op ampsmotors, waarvan sekere voertuie soos die van Ekhurhuleni en Emfuleni glad nie eens e-tolskyfies het nie.

“Hierdie skuld is ’n bewyse dat die e-tolstelsel totaal onwerkbaar is,” het Duvenhage aan Forum Nuus gesê.
Hy het bygevoeg dat die stelsel ’n totale administratiewe nagmerrie is wat die Suid-Afrikaanse regering nie geskik is om te bestuur nie. Duvenhage het ook genoem dat daar oor die 46 000 taxi’s is wat tans nie vir e-tol geregistreer is nie. “Alhoewel hulle kwytgeskeld is van betaling, is registrasie nodig om te kontrolleer waar die e-tol fondse vandaan kom,” sê Duvenhage.

Hy voer aan die optrede deur amptenare en plaaslike regerings om nie te betaal nie, is regverdiging vir motoriste se ontevredenheid en boikot teen die stelsel.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, stem saam dat die plaaslike regerings ’n beeld van protes uitstuur wat die optrede van motoriste wat weier om te betaal, regverdig. “AfriForum het nog altyd gesê dat dit motoriste se eie keuse is om e-tolgelde te betaal. Motoriste se besluite sal beslis beïnvloed word as hulle sien plaaslike regerings betaal ook nie.”

Carien Bloem van AfriForum wat reeds verskeie e-tolklagtes gekry het, het gesê die probleem is nie noodwendig met die tariewe nie, maar eerder dat motoriste nie oor die stelsel gekonsulteer is nie en ook nie insette oor die bou van paaie kon gee nie.
“Niemand sal omgee om te betaal vir goeie paaie en doeltreffende dienslewering nie. Die probleem is die stelsel is nie van meet af aan reg toegpas of bestuur nie. Daarbenewens is daar ernstige administratiewe probleme met die stelsel.”
Prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder aan die Noordwes-universiteit, verduidelik dat hierdie huidige krisis verdere verdelingslyne binne die drie-ledige ANC-regering gaan veroorsaak.

Hy verduidelik dat die staat vir hulself ‘n groter krisis veroorsaak het en dat daar nie genoeg erkenning is vir die reeds oorbelaste motoriste nie. “Die gees van nie-betaling word groter. Soveel so dat ek tans ook ten gunste is van die boikot,” het Duvenhage gesê.
“Gemeenskappe wat voorheen bereid was om te betaal, asook diegene wat nou weier, gaan toenemend weerstand teen e-tol opbou.”

Prof. Koos Malan, dosent in publiekereg aan die Universiteit van Pretoria (UP) meen selfbesluitneming en eiereg is groeiende konsepte in Suid-Afrika. “Die staat het met hierdie huidige e-tolkrisis ’n voorbeeld gestel van maniere om die reg in jou eie hande te neem omdat hulle self nie hul pligte kan nakom nie.”
Malan verduidelik die publiek is besig om reg in eie hande te neem, omdat die oppergesag van die land nalatig is en dieselfde doen.
In antwoord op ’n parlementêre vraag van die DA oor die krisis, het Dipuo Peters, minister van vervoer, gesê dat die uitstaande fakture “dalk” betaal sal word.

Soortgelyke plasings