--> -->
Spyskaart +

Hoekom Eskom nie ’n 15%-verhoging verdien nie

November 20, 2018 deur Mareli Rall

Deur dr. Eugene Brink

Eskom en die regering as sy alleenaandeelhouer het baie om verantwoording oor te doen. Min maatskappye of indiwidue het al soveel skade in post-apartheid Suid-Afrika aan die ekonomie en land aangerig.

Die regering het in die laat 1990’s die kans gehad om die kragsektor meer gedesentraliseerd te maak en privatisering van krag toe te laat, maar helaas het dit nie gebeur nie. Dit sou ons as die publiek keuses bied by wie om krag te koop – nes dit in suksesvolle lande soos die Verenigde Koninkryk gebeur. Maar die regering het vasgeklou aan Eskom se staatsgewaarborgde monopolie en daarop gefokus om wins te maak eerder as om ’n kostedoeltreffende diens aan die land te lewer.

Die res is geskiedenis: Wanbestuur, korrupsie, onreëlmatighede, beurtkrag en onbillike eise vir verhogings. Nou wil hulle ’n 15%-verhoging op ons afdwing terwyl die inflasiekoers nie eens 5% is nie.

Eskom het ’n voorbelaste verlies van R2,6 miljard vir die 2017/2018-boekjaar gely. R20 miljard se onreëlmatige besteding is ook aangegaan – ’n bedrag wat saamgestel is uit gegewens sedert 2012, maar nietemin onrusbarend is. Volgens Eskom beklee sowat 20% van sy nagenoeg 50 000 werknemers bestuursposte.

Asof Eskom se treurmare nie erg genoeg is nie, probeer hulle ons paai met kosmetiese veranderinge. In Mei vanjaar het hulle besluit om nie salarisverhogings en bonusse aan hul topbestuur toe te ken nie en ook nie vakatures in hierdie poskategorie te vul nie. Enigiemand met oppervlakkige kennis van Eskom sou weet dit is nie naastenby genoeg om die kragreus te stabiliseer nie. Of Eskom dit toe wel gedoen het, weet ons nie. Ewenwel, dit is nogtans slegs ’n druppel aan die emmer.

Wat ons ook nie weet nie, is die stappe wat teen korrupte amptenare gedoen is oor staatskaping en korrupsie by Eskom. Sover het ’n klomp vrot appels slegs bedank terwyl daar skynbaar tugstappe teen hulle aan die gang was. Sean Maritz en Matshela Koko is slegs twee prominente voorbeelde hiervan. Of hulle gedwing is om te bedank om hulle en Eskom sodoende rooi gesigte en verdere gevolge te spaar, en of hulle self bedank het, is eintlik van mindere belang. Die feit is daar is steeds baie personeel by Eskom wat deel was van grootskaalse korrupsie en daar is geen teken dat hulle boete vir hul dade doen nie. Uit minstens 350 gevalle van korrupsie, het slegs ’n handvol strafregtelike klagtes geword. Daar is geen aanduiding van hoe hierdie ondersoeke vorder en wie nou juis onder hierdie groepie tel nie.

Inmiddels het Eskom vanjaar sy rieme styfgeloop met die vakbonde. Hulle het aanvanklik geweier om enige verhogings toe te staan en nywerheidsaksie het vinnig gevolg. Eskom het daarna teruggekrabbel toe Numsa en NUM gewelddadig begin raak het en ’n loonooreenkoms is uiteindelik aan die einde van Augustus geteken en gefinaliseer. Die ooreenkoms het ’n 7,5%-verhoging vir die huidige finansiële jaar tot gevolg (wat terugwerkend vanaf 1 Julie vanjaar van toepassing is), asook 7% vir die twee daaropvolgende jare. Die waarborg is ook gegee dat geen van die mense wat gevandaliseer en niestakende werkers geïntimideer het, ontslaan sal word nie. ’n Onverklaarbare eenmalige nabelaste bonus van R10 000 is tewens aan elke werknemer belowe nadat die skikking bereik is – ongeag of daardie persoon meegedoen het aan die ontwrigting al dan nie.

Die gemors waarin Eskom en die land vandag is, kan regstreeks herlei word na swak regeringsbesluite, asook die wanfunksionaliteit in ander sfere van regering. Selfs die R33 miljoen-lening wat die Chinese Ontwikkelingsbank aan Eskom gegee het, word deur ’n staatswaarborg gerugsteun. Hierdie waarborge val nie uit die lug uit nie en moet op ’n manier gefinansier word. Dit gebeur deur ons net verder te belas. Dis daarom maklik vir pres. Cyril Ramaphosa om die versekering te gee dat “die land” nie sy bates sal prysgee nie as hy bloot die belas-knoppie kan druk wanneer hy wil.

Die verknorsing spruit ook uit die ANC se Faustiaanse politieke pakt met die Cosatu-vakbonde. Dit is nie ons as die publiek se foute of probleme nie. Hardwerkende belastingbetalers, wat ook hul kragrekeninge betyds betaal, word nou wéér gestraf vir die gemors by Eskom en munisipaliteite. Ons is nie hul slaansak nie en 15% is te veel – veral as jy nie jou eie huis eers in orde kry nie en vir politieke doeleindes toegee aan onbillike eise. Hulle het nie ons beste belang op die hart nie en dus moet ons dan ook nie toegee aan hulle eise nie.