|

Hoe gemaak met boeliekrisis in SA skole?

’n Gesin van Gauteng is vandag in rou gedompel nadat hul 13-jarige seun vermoedelik aan beserings weens afknouery by die skool dood is.

AfriForum as burgerregte-organisasie is geskok oor die dood van Louis de Jonge, ’n leerling aan die Noorderlig Gekombineerde Skool in Benoni.

Afknouery is aan die toeneem by skole en dit is juis om dié rede dat AfriForum ’n teenboelieveldtog van stapel gestuur het. Kinders moet meer hiervan bewus gemaak word en weet waar om vroegtydig hulp te kry, sê Leandie Lombaard, projekkoördineerder van die veldtog.

Volgens inligting het Louis Maandag en Dinsdag by sy ma oor erge hoofpyn gekla nadat hy glo verlede Vrydag deur boelies by die skool aangerand is. Hy is na bewering met ’n pyp geslaan en met ’n sokkerbal in die gesig geskop. ’n Nadoodse ondersoek moet eers gedoen word om vas te stel wat die oorsake van sy dood is.

Die skoolhoof het die voorval by die distrikskantoor van die departement aangemeld en ’n verslag is ook aan die departement gestuur.

 

Louis se familie is getraumatiseer en sal eers later kan besluit of ’n klag teen die boelies ingedien kan word.

Lombaard sê boelievoorvalle kom al hoe meer gereeld voor. “Die selfsugtigheid van die mensdom steek al hoe meer kop uit en dit wil voorkom of mense mekaar niks meer gun nie. Suid-Afrika is in ’n spiraal van gewelddadige optrede vasgevang wat weerlose mense, soos kinders, nog meer kwesbaar maak.

“Dit is tragies en baie hartseer dat die samelewing so vervlak en verval het dat daar nie meer goeie voorbeelde vir jong kinders en die jeug is nie. Daar is ’n enorme gebrek aan norme en waardes. In ’n liefdelose wêreld het ouers en onderwysers nou ’n baie belangrike rol om in kinders se lewens te vervul.”

Volgens Lombaard moet kinders leer wat liefde is sodat hulle daardie liefde na buite kan uitleef. Hulle moet leer van waardes en integriteit, goeie oordeel en goeie besluitneming, want in ’n omgekeerde en vervreemde wêreld gaan hulle dit nie leer.

Ouers en onderwysers het ’n groter rol as ooit om as ware leiers op te staan en die jeug te bemagtig. “Wees die voorbeeld en wees die begin van verandering in hierdie deurmekaar wêreld!

“Goeie ouerskap en goeie onderwysers kan ’n lewenslange positiewe invloed in ’n kind se lewe hê,” meen Lombaard.

AfriForum het vanjaar sy teenboelieveldtog afgeskop met praatjies by verskeie skole waar leerlinge, onderwysers en ouers betrek is. Dié doel met die veldtog is om bewustheid oor afknouery in skole te skep. Indien jou kind se skool wil betrokke raak by hierdie veldtog, stuur ’n  e-pos na boelie@afriforum.co.za

 

Gaan kyk ook na ons bewusmakingsvideo teen afknouery by

https://www.youtube.com/watch?v=S1lld_ptiP4&t=1s

 

Soortgelyke plasings