|

Heunis-plaasaanval: Verdagte word skuldig bevind

AfriForum verwelkom die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria se besluit op 24 Maart 2020 om Justice Sethlangu skuldig te bevind op die moord van Johan Heunis, die vermoorde man van Mariandra Heunis. AfriForum se Traumaondersteuningseenheid staan Mariandra en haar gesin sedert 2017 by.

Sethlangu het Johan op 1 Oktober 2016 op die Heunisse se kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing herhaaldelik – ten aanskoue van sy hoog swanger vrou en vierjarige dogter – in die kop en bors geskiet. Regter William Letsoalo het Sethlangu ook skuldig bevind op drie aanklagte van huisbraak met die opset om te roof, asook op ’n klag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Johan Kloppers, ’n traumaondersteuningsbeampte van AfriForum se Traumaondersteuningseenheid, bied sedert 2017 sowel emosionele ondersteuning as traumaberading aan Mariandra en haar kinders. ’n Verteenwoordiger van AfriForum het haar daagliks na die hof vergesel en AfriForum het haar met hofvoorbereiding ondersteun omdat sy gedagvaar was om in die saak te getuig.

Volgens Kloppers verwelkom AfriForum en die Heunis-gesin die feit dat geregtigheid uiteindelik geskied.

“Dit was ’n lang pad tot hier en AfriForum se Traumaondersteuningseenheid sal steeds daarmee voortgaan om emosionele ondersteuning aan die Heunis-gesin te bied. Hoewel die trauma van die plaasaanval ’n blywende impak op die Heunis-familie gelaat het, bring dit ’n mate van berusting om te weet dat ten minste een van die plaasaanvallers nou vir sy dade moet boet. AfriForum raak betrokke by sake soos dié om toe te sien dat geregtigheid geskied en om aan die slagoffers van hierdie gruwelike misdade die nodige emosionele ondersteuning te bied,” sluit Kloppers af.

Soortgelyke plasings