Herdenkingsruiters lê meer as 200 km te perd af vir erfenis


Die burgerregtewaghond AfriForum en Kraal Uitgewers het vanjaar as borg opgetree vir tien ruiters en hul perde wat die afgelope week van Bloemfontein na Kimberley gery het om die Anglo-Boereoorlog wat van 1899 tot 1902 plaasgevind het, te herdenk. Die ruiters van hierdie herdenkingsritte het reeds die afgelope ses jaar soortgelyke ritte na ander gebiede in Suid-Afrika onderneem en nagenoeg 1 700 km te perd afgelê.

“Ons is trots om hier te kan wees, en hoe dan beter as op die rug van ’n perd; ’n vertroueling,” vertel Theunis van Staden, ruiter en sameroeper van dié herdenkingsritte.
Verskeie erfenisterreine insluitend die Vrouemonument in Bloemfontein, historiese bakens op Petrusburg en Jacobsdal, asook die slagvelde van Paardeberg en Magersfontein is tydens vanjaar se rit besoek. “Ons het nie net ons eie geskiedeniskennis opgeskerp nie, maar het ook bewus geword van die groot behoefte aan die instandhouding en bewaring van hierdie terreine en monumente. Talle van die monumente en terreine waarby ons gekom het, is ongelukkig tans in ’n swak, vervalle of beskadigde toestand,” vertel Mareli Rall, ’n AfriForum-bemarkingsbeampte wat ook die rit meegemaak het.
Volgens Van Staden het die plaaslike gemeenskappe op die roete se betrokkenheid en ondersteuning aan die ruiters en hul perde ’n belangrike rol in vanjaar se herdenkingsrit gespeel. “Lede van die gemeenskap het daagliks vir skoon water, kampe, lusern en tef gesorg. Hierdie rit het weer bewys dat ’n gemeenskap mekaar kan ondersteun en bystaan,” merk hy op.

Die afskop van vanjaar se rit het saamgeval met die bekendstelling van Kraal Uitgewers se nuutste publikasie, Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899‑1902. Die historiese gebeure van verskeie van die terreine waarby vandeesweek besoek afgelê is, is in detail in dié boek opgeteken.

Soortgelyke plasings