|

Helpende Hand en Coleske wil honger magies hokslaan

Solidariteit Helpende Hand en die Afrikaanse musiekbedryf se grootste onafhanklike platemaatskappy, Coleske Artists, vat vanjaar hande om ’n groot verskil in behoeftige kleuters se lewens te maak.

Die musiekreus en liefdadigheidsorganisasie wil deur hul nuwe projek, #Stophonger, die publiek bewus maak van die dringende behoefte aan voedsel onder Suid-Afrika se kleuters.

Helpende Hand, wat reeds sedert 2009 ’n voedingsprojek by kleuterskole het, gaan vanjaar 1,5 miljoen etes probeer insamel om meer as 8 000 kleuters van ’n bord kos te voorsien.

Daar is nou meer as 8 000 kleuters wat deel is van Helpende Hand se voedingsprojek. Dié projek fokus daarop om behoeftige kleuterskole te ondersteun met koopbewyse om kos aan te koop. Om te verseker dat hierdie kleuters genoeg voedsel ontvang, moet Helpende Hand vanjaar sowat 1,5 miljoen etes voorsien.

Margolé Riekert, projekorganiseerder by Helpende Hand, sê daar is elke aand kleuters wat honger gaan slaap. “Hulle ouers kan net eenvoudig nie bekostig om vir hulle kos te gee nie.

Bekende sangers wat die projek steun, is die Italiaanse superster, Patrizio Buanne, asook die jong operaster Amira Willighagen van Holland.

Ander plaaslike talent soos die musiekduo Touch of Class, Tarryn Lamb, Monique Steyn, Corlea Botha, Dewald Wasserfall en Jay sal ook help om honger magies vol te kry.

“Vir baie kinders is ’n bord kos by die kleuterskool hul enigste maaltyd vir die dag. Help ons om ’n verskil in ’n honger kind se lewe te maak,” meen Ruhan du Toit van Touch of Class.

Die sangers het die afgelope naweek ’n skare van 9 000 mense vermaak tydens die tweede Classics is Groot-konsert wat by die Sun Arena in Pretoria plaasgevind het.

Jy kan betrokke raak en ’n bord kos vir kleuters borg. Sluit aan by Helpende Hand op www.helpendehand.co.za/stophonger

 

 

Soortgelyke plasings