|

Help kinderslagoffers van plaasmoorde deur Wilmientjie-fonds te ondersteun

Kinderslagoffers van plaasmoorde ervaar dikwels ondenkbare vlakke van trauma en lyding.

Omdat hulle dikwels klein is en nog nie oor die vermoë beskik om hul gevoelens te verwoord nie, treur hulle in stilte en praat hulle nie oor hul vrese nie.

’n Kliniese sielkundige, met wie AfriForum gepraat het, meen die algemene publiek sal skrik as hulle sien waardeur kinders gaan wat slagoffers van plaasmoorde en –aanvalle is.

Elke kind hanteer die situasie of gebeure anders. Maar in die meeste gevalle het hulle berading dringend nodig omdat hulle skielik aan slaaploosheid, angstigheid en selfs depressie begin ly. Van hierdie kinders moet noodgedwonge op medikasie gaan om hulle te help om te oorleef.

Benewens hul geestelike en emosionele gebrokenheid waaraan aandag gegee moet word, is van hulle ook skielik sonder finansiële sekuriteit en standvastigheid as byvoorbeeld die pa, wat gewoonlik die broodwinner is, vermoor word.

Slagoffers van plaasmoorde se wêrelde stort in duie. Die oorlewendes verlaat dikwels die plaas en hulle weet nie hoe hulle in die toekoms gaan oorleef nie. Kinders se skoolgelde kan skielik nie meer betaal word nie en ouers kinders kan nie verder gaan studeer nie. “Dis ’n verskriklike bose kringloop en slagoffers is geweldig uitgelewer en kwesbaar,” meen die sielkundige.

Om dié rede het AfriForum besluit om die Wilmien Potgieter-fonds, ’n ondersteuningsfonds vir kinderslagoffers van plaasmoorde te begin. Familielede het toestemming gegee dat die fonds gestig word.

Wilmien en haar ouers, Wilna en Attie, se verhaal het die land in 2010 tot stilstand geruk.

Die tweejarige Wilmientjie en haar ouers is in Desember wreed op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor. Wilmientjie is met ’n skerp voorwerp op haar kop geslaan voordat sy geskiet is. Attie het 151 steek- en ander wonde aan sy liggaam gehad. Wilma, is soos hy, ook brutaal gemartel voordat sy in die nek geskiet is.

Om die fonds af te skop, het die sanger Adam Tas aangebied om op 1 Februarie gratis ’n konsert by Cowhouse Market in Hazeldean, Pretoria, aan te bied. Ander borge is die Efficient Group, wat die fonds se geld se belê, Pretoria FM, Cowhouse Market en Live Now. AfriForum sal die fonds administreer.

Die konsert begin om 18:30 en kaartjies kos R250 per persoon.

Indien jy by die inisiatief betrokke wil raak, stuur ’n e-pos na fonds@afriforum.co.za

As jy tot die fonds wil bydrae, stuur “FONDS” na 38312 (R10 per SMS).

’n Skenking kan ook gemaak word deur die volgende bankbesonderhede te gebruik:

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 62349898398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 26155

Soortgelyke plasings