|

Harlequins-sewestoernooi weer ’n reusesukses

Die Universiteit van Pretoria se manskoshuis Maroela en die privaat damesnetbalspan, die Legends, het onlangs as die wenners van die Harlequins Koshuis-sewestoernooi vir rugby en netbal uitgetroon.

Maroela se tweede span het ook weggestap as die koshuisplaatwenners vir rugby en die Harlequins-klubrugbyspan, die All Stars, het weggestap as die klubbekerwenners vir rugby.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het as hoofborg by dié toernooi opgetree, waartydens verskeie rugby- en netbalspanne van universiteitskoshuise en sportklubs van regoor die land met mekaar meegeding het.

Wikus Botha, kaptein van Maroela se eerste rugbyspan, sê hy was baie tevrede met beide Maroela-spanne se spel. “Hierdie toernooi is ongelooflik goed georganiseerd en het die potensiaal om nóg groter te word. Dit was vir ons ʼn geleentheid om ons koshuis se naam hoog te hou en vir ons span om te voor te berei vir volgende jaar se Varsitybekertoernooi.”

Hy is ook van mening dat dit noodsaaklik is dat jongmense na skool steeds aan sport deelneem. “Deur aan sport deel te neem leer jy meer oor dissipline en hoe om in ’n span te werk.”

Ludwiche van Deventer, kaptein van die All Stars-klubrugbyspan, sê hy is verheug deur sy span se wen.

“Só toernooi is uiters belangrik omdat dit sportgemeenskappe nader aan mekaar bring. Nie almal kan professioneel aan sport deelneem na skool nie en hierdie tipe toernooie is ’n lekker geleentheid vir diegene wat steeds aktief aan spansport wil deelneem. Ons hoop die toernooi sal van krag tot krag gaan.”

Volgens Sanette van Niekerk, kaptein van die Legends-netbalspan, was hul wen ‘n groot verrassing. “Ons het nie ingeskryf om te wen nie, ons wou net weer saam pret hê en lekker kuier.  Met vandag se gejaagde lewe is dit moeilik om bymekaar uit te kom. Ons groep het mekaar ontmoet deur ons liefde vir die spel en dit was so lekker om weer saam deel te neem.”

Sy sê voorts dat daar so min geleenthede na skool is om deel te neem aan spansport en dat die toernooi ’n geleentheid vir haar span was om een van hul passies uit te leef. “Om onaktief te wees maak jou vinniger oud, daarom is dit belangrik om elke geleentheid te benut om ’n gesonde en gebalanseerde lewe te lei.”

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die burgerregte-organisasie baie trots om deel van dié toernooi te wees. “Die toernooi was ʼn reusesukses en ons het baie goeie rugby en netbal deur die loop van die naweek gesien. Ek glo hierdie toernooi sal verder groei en uitbrei en hopelik ʼn jaarlikse instelling word.”

Die wenners is:

Netbal

Netbalbekerwenner: Legends

Rugby

Koshuisbekerwenner: Maroela Koshuis

Koshuisplaatwenner: Maroela 2

Koshuisbowlwenner: Jagerbombers

Koshuisskildwenner: De Goede Hoop

Klubbekerwenner: All Stars

Klubplaatwenner: Witbank

Klubbowlwenner: Warriors

Klubskildwenner: Westelikes

Hoërskoolbekerwenner: Hoërskool Waterkloof

 

Soortgelyke plasings