|

#HardloopvirHoop: Bennie Roux spring weg vir plaasaanvalslagoffers

Die ultramaratonatleet Bennie Roux (41) se hardloopprojek oor meer as 250 km deur die Vrystaat het vandag om 07:00 in Villiers afgeskop. Roux en ander atlete het vandag 42 km gehardloop en het in Frankfort geëindig. Dié atlete hardloop ten bate van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid om geweldslagoffers – veral slagoffers van plaasaanvalle en ‑moorde – te ondersteun.

“Die pyn en hartseer wat met plaasmoorde gepaardgaan, het vir my ’n werklikheid geword toe mense na aan my slagoffers van hierdie gruwelmisdaad geword het. Daarom is die slagoffers wat ná só ’n tragedie agterbly ’n saak wat my na aan die hart lê. Ek glo dat bewusmaking die enigste manier is om die aandag op plaasaanvalle te vestig en die regering te dwing om meer te doen om boere te beskerm. Ek hoop om met hierdie projek ’n verskil in slagoffers se lewens te maak,” sê Roux.

“Die Trauma-ondersteuningseenheid hoop dat AfriForum-lede en -ondersteuners Roux ruim per kilometer sal borg of enige ander donasies sal maak om slagoffers te ondersteun. Hoe meer fondse ons insamel, hoe meer kan ons doen om slagoffers te help. Plaasaanvalle en -moorde is ’n krisis wat elkeen van ons raak, want ons almal is afhanklik van boere,” sê Johan Kloppers, #HardloopvirHoop-woordvoerder van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

Die #HardloopVirHoop-roete lyk as volg:

  • 22 Oktober: Roux spring in Villiers weg en hardloop grondpad tot in Frankfort. Hy hou om 13:30 ’n muntlegging by die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort.
  • 23 Oktober: Hy spring by die Frankfort-gholfklub weg en hardloop tot in Reitz. Roux hou om 13:30 ’n muntlegging by die Hoërskool Reitz.
  • 24 Oktober: Roux spring by die Hoërskool Reitz weg en hardloop na Bethlehem. Hy behoort om 17:00 by die Christensentrum in Bethlehem te wees waar daar ook ’n muntlegging gehou word.
  • 25 Oktober: Roux spring by Lavender Hill op die N5 weg en hardloop na Fouriesburg. ’n Poeierverfpretloop (colour run) vind om 12:00 by die Fouriesburg Intermediêre Skool plaas.
  • 26 Oktober: Hy spring in Fouriesburg weg en sluit die dag by die Roosfees by die Oranje Gasteplaas af.

Jy kan dié projek só ondersteun:

  • ’n Skenking: Skenk ’n bedrag per km (50c, R1, R5, R100 en so meer: 50c per km is byvoorbeeld R125).
  • Skenkings kan aan die slagofferfonds gemaak word by:

Begunstigde: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 498 983 98
Tak: Centurion
Takkode: 261-550
Verwysing: Hardloop vir Hoop

Die Trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Die eenheid het al 238 mense ondersteun, waarvan 38 kinders is. Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, ondersteuning tydens hofsake, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning.

Kontak trauma@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings