|

Hammanskraal se drinkwater nie veilig vir menslike gebruik

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope week watermonsters in die Hammanskraal-gebied geneem en bevind dat die water nie geskik vir menslike gebruik is nie. Dít volg nadat verskeie berigte in die media verskyn het oor die kwaliteit van die gebied se drinkwater.

Watermonsters is by die Jubilee-distrikshospitaal en die plaaslike polisie-akademie geneem en na ’n SANS-geakkrediteerde laboratorium vir ontleding gestuur. Die resultate is daarna ook na ’n waterspesialis gestuur vir kommentaar oor die uitslae.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, bevat die drinkwater skadelike stowwe wat mense se gesondheid kan benadeel.

“Volgens die resultate van die watermonster wat by die polisie-akademie geneem is, bevat dit sewe kolonies E. coli per 100 ml water, wat uiters nadelig is vir mense se gesondheid. Buiten vir die E. coli het albei monsters ook verhoogde konsentrasies natrium, ammoniak en mangaan bevat wat die SANS 241-limiet vir drinkwater oorskry.”

AfriForum moedig die inwoners van Hammanskraal aan om eerder gebottelde water te gebruik totdat die munisipaliteit kan bevestig dat die water weer aan SANS 241-regulasies vir skoon drinkwater voldoen en dit veilig is vir menslike inname.

“AfriForum gaan die watergehalte deurlopend evalueer om die inwoners van Hammanskraal se grondwetlike regte te beskerm en te verseker dat hulle van skoon drinkwater voorsien word. Verder vermaan AfriForum ook die munisipaliteit om die water so vinnig as moontlik weer op standaard te kry sodat die inwoners veilige drinkwater kan geniet,” voeg Grobbelaar by.

AfriForum het ’n skrywe aan die munisipaliteit gestuur om hulle oor die probleem in kennis te stel en te versoek dat die munisipaliteit intussen alternatiewe bronne gebruik om die inwoners van skoon drinkwater te voorsien.

Sien die resultate hier:
2019-08-18 Afriforum-Watersamples

Soortgelyke plasings