Hammanskraal-polisie moet antwoord oor 120 geweldsmisdaadondersoeke


AfriForum het in Augustus 2018 ’n lys van sake en oortredings van die Hammanskraal-gemeenskap ontvang wat by die plaaslike polisiestasie aangemeld is. Dié lys bevat meer as 120 klagtes en sluit onder meer sake van moord en verkragting in wat nie deur die Hammanskraal-polisiestasie ondersoek word nie aangesien daar nog geen terugvoer gegee is nie. Dit volg ná die nuus dat 280 moorde wat deur dié stasie ondersoek moes word steeds geen skuldigbevindings opgelewer het nie.

AfriForum het verskeie versoeke aan die plaaslike stasie gerig om vergaderings te belê. Die organisasie het ook skrywes aan die polisie op sowel kluster- as provinsiale en nasionale vlak gerig – sonder enige terugvoer. Indien die stasie nie binnekort terugvoer lewer nie, gaan AfriForum die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) om hulp nader. AfriForum sal ook nie skroom om sake by die hof aanhangig te maak nie.
Daar is tans geen geldige redes waarom die Hammanskraal-polisie versuim om hul pligte na te kom nie. AfriForum sal aanhou om druk toe te pas om te verseker dat die gemeenskap die nodige ondersteuning kry.

“Dit is kommerwekkend dat die Hammanskraal-polisie nie bereid is om sake soos moord en verkragting te ondersoek nie,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om die organisasie in te lig van sake wat nie die nodig aandag ontvang nie. E-pos hillel.coetzer@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings