|

Hammanskraal-drinkwater nie geskik vir menslike gebruik 

AfriForum het vandag ’n skrywe aan die Tshwane-metro gestuur oor die gehalte van Hammanskraal se drinkwater en die metro versoek om alternatiewe bronne te gebruik om skoon drinkwater aan die inwoners te voorsien totdat die probleem opgelos is.

Dít volg nadat AfriForum op 12 November 2019 watertoetse in die Hammanskraal-gebied uitgevoer het ná mediaberigte oor die gehalte van die drinkwater. Dié toetse het bevind dat die water nie geskik is vir menslike gebruik nie.

Watermonsters is by sowel die Jubilee-inkopiesentrum as by die Hammanskraal-polisiestasie geneem wat na ’n Sanas-geakkrediteerde laboratorium gestuur is vir ontleding. Dié resultate toon dat die water hoë vlakke nitrate bevat wat gevaarlik is vir menslike gebruik.

“Die resultate toon dat die watermonster wat by die Jubilee-inkopiesentrum geneem is 8.8 eenhede gekombineerde nitrate en nitriete bevat, wat die Sanas 241-limiet vir drinkwater oorskry,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

AfriForum moedig Hammanskraal-inwoners aan om eerder gebottelde water te gebruik totdat die metro hulle inlig dat die water weer aan Sanas se 241-regulasies vir skoon drinkwater voldoen en veilig is vir menslike inname.

“AfriForum gaan die watergehalte egter deurlopend evalueer om die grondwetlike regte van Hammanskraal-inwoners te beskerm en te verseker dat hulle van skoon drinkwater voorsien word. Verder maan AfriForum ook die metro om die watergehalte so spoedig as moontlik weer op peil te kry sodat die inwoners veilige drinkwater het,” sluit Grobbelaar af.

Hammanskraal-waterverslag

Soortgelyke plasings