Grootfontein Landboukollege: R10 miljoen vir herstelwerk ná druk deur AfriForum Jeug

Die druk wat AfriForum Jeug op die Grootfontein Landboukollege in Middelburg in die Oos-Kaap weens die swak verblyftoestande en algemene geriewe by dié kollege toegepas het, het die kollegebestuur nou genoop om sowat R10 miljoen vir herstelwerk en opgraderings opsy te sit.

Dit volg ná probleme wat ten spyte van verskeie versoeke aan die bestuur nie aangespreek is nie en AfriForum Jeug genoodsaak was om verdere stappe te neem om die erns daarvan te benadruk. ’n Klagte is ook by die Advertensiestandaarde-owerheid van Suid-Afrika (ASASA) gelê oor die wanvoorstelling op die kollege se webtuiste van sommige van die aktiwiteite en fasiliteite wat die kollege aanbied.

“AfriForum Jeug sal aktief betrokke bly om toe te sien dat die geld wat nou beskikbaar gestel is wel reg aangewend word,” sê Marike van As, AfriForum se koördineerder vir Kovsies en Grootfontein.
“Hoewel ons die vrystel van dié fondse verwelkom, is die studente steeds bereid om self in te spring, te herstel en skoon te maak met dít wat tot ons beskikking is. Ons wil ook van ons kant af ’n volhoubare bydrae lewer om ons kollege weer ’n plek te maak waarop ons kan trots wees,” sê Jan-Hendrik Goosen, voorsitter van AfriForum Jeug se Grootfontein-tak.

AfriForum is in die proses om dié jeugtak van hul eie randsnyer en ander algemene gereedskap te voorsien om studente in staat te stel om opknappingswerk te kan doen wanneer nodig.

Soortgelyke plasings