|

Groot vordering in AGT van Gerrie Nel en sy span se sake

Terwyl AfriForum vandeesweek aangekondig het dat Julius Malema, leier van die EFF, steeds in sy visier is oor drie sake van korrupsie, aanranding van ’n polisiebeampte en die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar, het die organisasie se privaatvervolgingsgesag dramatiese vordering in agt ander sake gemaak.

Saak 1: Duduzane Zuma

Die seun van oudpres. Jacob Zuma staan tereg op aanklag van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur in die Randburgse landdroshof. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het hom aangekla na AfriForum se ingryping. Uitspraak in dié saak is Vrydag (12 Julie).

Saak 2: Grace Mugabe

AfriForum het betrokke geraak nadat Gabriela Engels die organisasie genader het toe sy ’n klag van aanranding teen dié oudpresidentsvrou van Zimbabwe ingedien het. Die NVG het aangedui dat ’n proses begin is om haar uit te lewer om in Suid-Afrika tereg te staan.

Saak 3: Verkragting

’n Man sal Maandag (15 Julie) in die streekhof in Ga-Rankuwa buite Pretoria op ’n klag van verkragting gevonnis word. Die klaer, Reneiloe Motsepe, het AfriForum om hulp genader.

Saak 4: Kol. Patrick Karegeya

Daar is uiteindelik hoop vir die familie van dié vermoorde voormalige intelligensiehoof van Rwanda wat in 2013 deur sluipmoordenaars in Sandton vermoor is. Die hof het na ingryping deur AfriForum gelas dat die NVG die moordenaars moet vervolg. Die NVG het aangedui dat hy met ’n uitleweringsproses vir die skuldiges begin het.

Saak 5: Alexis Bizos

Dié seun van adv. George Bizos, wêreldbekende menseregte-advokaat, sal ook ná druk deur AfriForum deur die NVG vervolg word op klagtes van aanranding van sy vrou, Monique van Oosterhout. AfriForum vermoed die NVG wou aanvanklik nie vervolg nie weens Bizos Jr. se politieke verbintenisse.

Saak 6: Ford

Die saak waarin AfriForum die familie van Reshall Jimmy bystaan wat in 2015 in sy Ford Kuga doodgebrand het, is in ’n baie gevorderde stadium en AfriForum verwag ’n gunstige uitspraak voor die einde van die jaar.

Saak 7: Thandi Modise

Die speaker van die Nasionale Vergadering sal op 22 Julie in die landdroshof in Potchefstroom verskyn op aanklagte van dieremishandeling. AfriForum en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het met ’n privaatvervolgingsaak teen haar begin. Die saak kon uiteindelik voortgaan nadat getuies in die saak se volledige verklarings bekom is.

Saak 8: Julius Malema

Die leier van die EFF het bloedneus gekry toe sy aansoek om die Wet op Oproerige Byeenkomste (Wet 17 van 1956) ongeldig en onwettig te verklaar van die hand gewys is. Hy het die aansoek gebring hangende twee hofsake waarin hy en die EFF aangekla is dat hulle mense aangemoedig het om grond onwettig te beset. Hy het in landdroshowe in Newcastle en Bloemfontein verskyn nadat AfriForum klagtes van aanhitsing tot geweld teen hom ingedien het. Die bloutjie wat Malema geloop het, beteken nou dat die saak in die Konstitusionele Hof verder gevoer sal word.

 

Soortgelyke plasings