|

Groot planne én nuwe identiteit vir Akademia

Die privaat hoëronderwysinstelling Akademia het onlangs ’n splinternuwe visuele identiteit gekry.

Dit spruit uit die instelling se gesonde groei en vernuwende planne vir die toekoms. Dié planne behels onder meer om meer studente toegang tot gehalte-onderrig in hul moedertaal te gee deur meer onderrigmodelle tot die huidige hoëtegnologie-onderrigleermodel te voeg.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, sê die instelling vier vanjaar haar sewende bestaansjaar en beleef steeds vinnige groei en vooruitgang.

Deeglike navorsing is deur onafhanklike konsultante gedoen met betrekking tot die nuwe identiteit. Akademia het nuwe kleure aangeneem, naamlik vlootblou en brons, wat onderskeidelik spreek van statigheid en die klassieke.

Verder is Akademia se embleem sorgvuldig ontwikkel om die strategiese rigting van die instelling simbolies te ondersteun. Die embleem bestaan uit ʼn A-simbool, ʼn diamant, ʼn olyfkrans en ʼn skild. Die A-simbool verwys eerstens na die A van Akademia en tweedens daarna dat die instelling, nou én in die toekoms, Afrikaanse moedertaalonderrig bied. Die diamant dui daarop dat die instelling deel van die Solidariteit Beweging vorm. Die skild verteenwoordig tradisie en standvastigheid, terwyl die olyfkrans Christenskap simboliseer en na die Griekse tydperk verwys waaruit die klassieke universiteitswese ontstaan het.

Die simbole word saamgevat in ʼn sirkel om aan te toon dat die onderskeie elemente nie in isolasie bestaan nie, maar as ʼn eenheid funksioneer. Die Latynse bewoording Ad futurum per fontes (na die toekoms vanuit die bronne) verwys daarna dat Akademia nie die oorsprong van die Westers-Christelike beskawing versaak nie, maar as deel van haar begronding omhels.

Visser sê hoewel Akademia op die voorpunt van ontwikkeling staan, is daar altyd aspekte wat blywend en onveranderd sal bly. “Hierdie konstante aspekte sluit in dat ons as hoëronderwysinstelling daarop ingestel is om afgeronde studente – vakkundig onderrig en in interdissiplinêre samehang opgevoed – aan Afrikaanse gemeenskappe lewer.”

Dr. Saretha Brüssow, nuwe dekaan van Akademia, sê die instelling is trots op die vooruitgang wat dit bewerkstellig. As deel van die instelling se visie vir verdere groei en ontwikkeling word ’n ope dag eerskomende Saterdag (21 April) aangebied.

Die instelling het in 2012 met 35 studente begin en vanjaar gegroei tot 911 studente. Van die kursusse wat aangebied word is BCom (Ondernemingsbestuur), BCom (Bestuursrekeningkunde), HSert (Rekeningkunde), HSert (Kantooradministrasie-Projekadministrasie), BCom (Ekonomie en Regte), BCom (Finansiële Beplanning) en Dip (Bemarking).

Die instelling spog ook met 12  onderrigsentrums landwyd en een in Namibië.

Die instelling het groot planne vir 2019 en daar word reeds gekyk na die uitbreiding van die programaanbod om rigtings soos BSc (Wiskundige Wetenskappe), BSc (Rekenaarwetenskappe), BA (Mediawetenskappe en Joernalistiek), B (Verpleekunde) en BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) in te sluit.

Soortgelyke plasings