|

Groot gevegte dreig oor steenkoolmyn by Krugerwildtuin

AfriForum het vandag met die Marlothpark-belastingbetalersvereniging en ander belanghebbendes vergader in aanloop tot ’n proses om teenstand teen ’n beoogde steenkoolmyn op die voorstoep van die Krugerwildtuin te bied.

Tydens die vergadering is kommer uitgespreek oor die beoogde myn waaroor gemeenskappe nie behoorlik ingelig is of enige insae in gehad het nie.

Cindy Benson, verteenwoordiger van die betalersvereniging, sê die myn kan groot implikasies vir die omgewing inhou. Daar is groot kommer oor wat die impak van so ’n myn op bestaande waterbronne kan wees. Voorts is daar groot vrese oor werksgeleenthede wat in gedrang kan kom as daar met steenkoolontginning begin word wat toerisme kan benadeel.

AfriForum se regspan het reeds ’n  skrywe aan Singo Consulting (PTY) LTD en Manzolwandle investments (PTY) LTD, wat steenkool wil ontgin, gestuur oor die gebrekkige proses wat tot dusver gevolg is.

Lambert de Klerk, hoof van omgewingsake by AfriForum, sê die skrywe is genoodsaak omdat die betrokke partye in gebreke gebly het om voldoende inligting oor die beoogde myn bekend te maak. Voorts is geen behoorlike openbare deelname- of konsultasieprosesse nog gevolg nie. Belanghebbendes het nie geleentheid gehad om as belangegroepe te registreer nie en geen dokumente soos ’n omgewingsimpakstudie is beskikbaar gestel nie.

Die partye het AfriForum ná die skrywe wel as belangegroep geregistreer maar net tot 15 Augustus tyd gegee om insette te lewer. AfriForum het daarop gewys dat die tydraamwerk onredelik is en het vir uitstel gevra. AfriForum sal ’n kundige aanwys om ’n behoorlike inset teen die beoogde myn voor te berei.

Volgens De Klerk is dit duidelik dat die diegene wat die myn beoog tot op hede nie in goedertrou opgetree het nie. Twee vergaderings is op baie kort kennisgewing gehou wat dit vir geaffekteerde gemeenskappe onmoontlik gemaak het om dit by te woon of enige insette te lewer.

Manzolwandle Investments wil die steenkoolmyn oor ’n gebied van 18 000 hektaar digby die Krugerwildtuin begin. Dit hou enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbou-aktiwiteite in. Mpumalanga as toeristebestemming kan ook ekonomies in duie stort as met onwettige mynbedrywighede voortgegaan word, meen De Klerk.

De Klerk het ook gewys op ’n onlangse uitspraak van die Appelhof teen die departemente van omgewingsake en minerale hulpbronne se goedkeuring dat Atha-Africa Ventures met ’n steenkoolmyn in die Mabola-gebied in Mpumalanga voortgaan. Die departemente het die aansoek stil-stil goedgekeur, terwyl dié gebied ’n geproklameerde bewaringsgebied is. Die hof het bevind die ministers was nie deursigtig nie en dat die besluit oorhaastig geneem is.

Dit wil voorkom asof daar al hoe meer sulke vergrype in Mpumalanga voorkom. AfriForum sal nie toekyk hoe onwettige mynbedrywighede die land verwoes nie, sê De Klerk.

Jy kan ons help deur ons veldtog #BewaarOnsNatuur te ondersteun. Teken die petisie by:

Soortgelyke plasings