|

Groot belangstelling in Akademia se nuwe LLB-graad

Akademia het reeds meer as 60 aansoeke gekry vir die nuwe LLB-program wat dié instelling vanaf 2020 sal aanbied.

Die LLB-graad vul die hoëronderwysinstelling se BCom (Ekonomie en Regte) aan wat reeds sedert 2017 aangebied word.

Akademia se LLB-graad is uniek in die sin dat dit ’n samestelling van vakke uit verskillende regsdissiplines asook taalvaardighede insluit. Afrikaanse studente kry boonop onderrig in hul moedertaal wat hulle ’n beter begrip vir komplekse idees gee.

Die LLB-kwalifikasie het volle akkreditasie van die Raad op Hoër Onderwys.

Werner Human, adjunkhoof van Solidariteit en verbonde aan die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA), sê dit is belangrik dat studente ’n vrye keuse moet hê om ’n kwalifikasie te verwerf wat daarop gemik is om die gemeenskap te dien en nie maar net ’n gestandaardiseerde program is wat die regering afdwing nie.

“Ons moet anders oor beroepstaal dink. Regslui wil in die taal van hul keuse kan praktiseer. Akademia is nie net nog ’n hoëronderwysinstelling nie, maar ’n instelling wat geborgenheid wil vestig.”

Volgens Human sal daar noue samewerking met regsfirmas wees en ’n netwerk van prokureurs sal versterk word met die nuwe program.

Die gilde vir regslui het ook aangekondig dat ’n volledige beurs vir die volle studietermyn van die LLB vir ’n suksesvolle kandidaat vanaf volgende jaar bewillig is. Aansoeke open op 28 November.

Prof. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, het tydens die bekendstelling van die kwalifikasie gesê in die regsberoep moet dit gaan oor ’n strewe na geregtigheid. Hy het klem geplaas op die outonomie van die regsberoep sowel as die outonomie van die regsakademie.

Malan het ook gewys op die belangrikheid van regskennis, tegniek, redenering, betoë, die lei van getuienis en kruisverhoor. “By regsfakulteite is daar min kennis van sommige van die aspekte en daarom is betrokkenheid by regspraktyk uiters belangrik.”

Malan het gesê terwyl Akademia in Afrikaans onderrig gee, is dit ook belangrik om uit die fonteine van die geskiedenis te drink en uit die ryke skat van regskennis uit Afrika te leer. Hy meen dit kan regslui bemagtig omdat hulle uiteraard uiteindelik nie net Afrikaanse of Engelse kliënte sal hê nie. “Dit het inherente intellektuele waarde om in jou taal te studeer, maar dit is ook belangrik om op ’n sinvolle wyse na almal in die land uit te reik.”

’n Nuwe kampus ter waarde van R1,5 miljard is in die pyplyn vir Akademia, terwyl tussen 30 en 40 grade vir akkreditasie voorberei word. Altesame 157 studente het vanjaar kwalifikasies aan Akademia behaal.

Soortgelyke plasings