Grondwethofuitspraak oor UV-taalbeleid bevestig minderhede is mislei oor beskerming van taalregte


Die meerderheidsuitspraak van die Grondwethof vanoggend dat die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wettig is, word deur AfriForum beskou as tekenend daarvan dat minderhede tydens die onderhandelings in aanloop tot die verkiesing van 1994 mislei is om te glo dat hulle taalregte beskerm sal word.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is argumente oor die wenslikheid van eentalige Engelse onderwys om sodoende weg te beweeg van segregasie en om rasseharmonie op kampusse te bevorder, teenstrydig met internasionaal aanvaarde taalregtebeginsels, maar ook selfs opvoedkundige beste praktyke.

“Die Suid-Afrikaanse verlede (byvoorbeeld gebeure in Soweto in 1976), maar ook dié van talle ander lande, van Bangladesj tot België, bewys dat waar studente van die reg om in hulle moedertaal te studeer ontneem word, dit tot groot spanning en selfs geweldpleging aanleiding gee,” sê Bailey.
Sy meen dat studente op kampusse geleer moet word om mekaar met respek te behandel en mekaar se regte te erken. “Dit sluit mekaar se taalregte in. Dit kan nie geskied deur enigeen van hulle regte te ontneem nie en nog minder deur Engels tot enigste amptelike taal van onderrig te verhef. Met Engelse eentaligheid word ’n bitter klein groepie Engelse moedertaalsprekers bevoordeel, terwyl min hoop by enige ander taalgroep voortleef dat inheemse tale verder sal ontwikkel.”
Sy voeg by dat die fokus op ras in argumente oor taalregte nie geldig is nie. “Volgens 2011 se sensus is die meerderheid sprekers van Afrikaans nie wit nie. Verder is tydens die onderhandelings voor 1994 juis voorgehou dat die land van rasgebaseerde argumente gaan wegbeweeg en dat daar op internasionaal erkende menseregte (wat sogenaamd in die Grondwet verskans sou word) gekonsentreer sou word. Hierdie uitspraak bewys egter die teendeel en beklemtoon opnuut dat die bou van sterk eie instellings deur die burgerlike samelewing nou die vernaamste wyse is waarop minderhede hulle regte sal kan bevorder en beskerm,” aldus Bailey.

AfriForum sal verder voortgaan om die miskenning van taalregte in die land op alle moontlike internasionale platforms in die kollig te plaas.

Soortgelyke plasings