|

Groepe hoop omstrede Jansen se opvolger erken Afrikaans

In tye waar die toekomstige aard van die universiteitswese beide plaaslik en internasionaal heroorweeg word, het universiteite sterk leiersfigure nodig wat akademiese vryheid en uitnemende opvoedingsbeginsels, soos die bevordering van moedertaalonderrig, sal bevorder sonder om polities of ideologies gedienstig te probeer wees.

Só het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, vandag gereageer nadat die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangekondig het dat prof. Jonathan Jansen, visekanselier en rektor, op 31 Augustus uittree.

Bailey het gesê ʼn rektor het ʼn leidende rol by ʼn universiteit wat die houding teenoor tale betref en dit het weer ʼn invloed op die houding wat studente, personeel, raads- en senaatslede teenoor die kwessie kan hê.

“Jansen se vele omstrede uitsprake oor rasseverhoudinge en Afrikaanse onderrig het daartoe gelei dat die studente toenemend op rasgronde gepolariseer is en dat die weerstand teen Afrikaans as onderrigtaal vergroot het,” het Bailey gesê.

In vroeë mediaberigte het Jansen gesê dit is baie moeilik om ʼn leier in die nuwe Suid-Afrikaanse omgewing te wees. Hy het gesê niemand wat die pos as rektor beklee moet ʼn maklike pad verwag nie. Veral nie by wat hy as ʼn “voormalige wit” universiteit beskryf het nie.

Bailey het gesê Jansen se opvolger sal hopelik sterk standpunt inneem en die universiteit na nuwe akademiese hoogtes help lei.

Jansen het ’n uitnodiging as genoot aan die Sentrum vir Gevorderde Studies in Gedragswetenskappe aan Stanford-Universiteit in die VSA aanvaar. Hy begin in September daar.

Luidens ’n verklaring van die UV is dit vir hom ’n geleentheid om sy loopbaan as internasionaal-bekende akademikus in opvoedkunde te bevorder. “Prof. Jansen se vertrek is ’n groot verlies vir die universiteit, maar die raad aanvaar sy besluit om uit te tree en sy akademiese loopbaan, asook ander geleenthede, na te streef,” het regter Ian van der Merwe, voorsitter van die universiteitsraad gesê.

Die raad het Jansen ook geloof vir sy deursettingsvermoë om die akademiese prestasie en transformasie van die UV te bevorder.

“Prof. Jansen het ’n belangrike rol gespeel om die UV te ontwikkel as ’n plek waar die omarming van diversiteit en die integrasie van die universiteit ’n agtergrond vir akademiese uitnemendheid verskaf het. Onder sy leierskap het die UV groot vordering gemaak in die uitvoering van sy sosiale verantwoordelikheid om die gemeenskap te dien.”

Volgens van der Merwe was Jansen die regte leier op die regte tyd.

Jansen is op 1 Julie 2009 as rektor aangestel en sy ampstermyn is op 1 Julie 2014 deur die raad vir ’n verdere vyf jaar verleng.

Prof. Nicky Morgan, huidige viserektor: bedryf aan die UV, sal intussen as rektor waarneem indien Jansen se pos met sy vertrek nog nie gevul is nie. Die raad sal binnekort met die proses begin om ’n opvolger vir Jansen te kry.

AfriForum het die hoop uitgespreek dat Jansen se opvolger aktief daaraan sal werk om wedersydse erkenning en respek tussen studente op die kampus te bevorder en ook sal bydra om oor die posisie van Afrikaans as onderrigtaal op die kampus te heroorweeg.

Marike van As, kampuskoördineerder vir AfriForum Jeug se Kovsies- tak, het ook gesê ʼn rektor is nodig wat die universiteit sal help opbou en nie afbreek nie.

“Die UV het ʼn rektor nodig wat nie net na die klagtes en eise van klein drukgroepe sal luister nie, maar ook na dié van die breë studentegemeenskap.”

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit gaan steeds voort met regsaksie teen die universiteit ná die raadsbesluit van dié instelling dat Engels vanaf 2017 die verstektaal moet wees.

Morné Mostert, nasionale woordvoerder vir AfriForum Jeug, bevraagteken Jansen se bestuursvernuf en sê dat die rektor misleidend opgetree het toe hy belowe het dat Afrikaans altyd ʼn plek op die UV sal hê. “Ons hoop egter dat sy opvolger die belangrikheid van moedertaalonderrig sal verstaan sodat daar waarlik ʼn plek vir alle studente sal wees by die UV.”

Die Solidariteit Beweging het ook die hoop uitgepreek dat Jansen se opvolger moeite sal doen om bande met die Afrikaanse gemeenskap, wat ʼn groot aandeel in die vorming van die universiteit gehad het en steeds het, te versterk.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen die UV se raad het die afgelope paar jaar onder Jansen se bestuur, onder meer deur dreigemente om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf, die Afrikaanse gemeenskap vervreem. “Die Afrikaanse kultuur en karakter van Kovsies het grootliks help vorm aan die sukses en uitnemendheid van die universiteit. Afrikaans en Afrikaanssprekendes het boonop ʼn reusebydrae tot die akademiese integriteit van die universiteit gelewer. Laasgenoemde kan en mag nie ontken word nie,” het Buys gesê.

Buys het die hoop uitgespreek dat die aanwysing van Jansen se opvolger met die nodige deursigtigheid en agting vir die universiteit se regulasies rondom die verkiesing van rektors sal geskied. “Die onus rus nou op die universiteitsraad om toe te sien dat Jansen se opvolger geskik is om die universiteit te midde van die heersende kultuur van konflik en geweld op universiteitskampusse na nuwe hoogtes te neem sonder om enige taal- of kultuurgroep verder te vervreem.”

Soortgelyke plasings