|

Grensoorlog herleef in twee nuwe publikasies

Twee nuwe publikasies wat meer lig op die Grensoorlog werp, Ratels aan die Lomba: Die Storie van Charlie-eskadrom en From Cunene to Cabo Delgado, is gisteraand deur Kraal Uitgewers in Centurion bekendgestel.

Die skrywers van die boeke, dr. Leopoldt Scholtz, historikus en joernalis, en Louis Lubbe, wat jare in die polisie was voordat hy die pen opgeneem het, het meer lig op die werk en skryfproses agter dié boeke gewerp.

Die bespreking is onder andere deur voormalige generaals van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) bygewoon.

In Ratels aan die Lomba ontmoet die leser die groep jong dienspligtiges wat in Oktober 1987 aan ’n kritieke geveg aan die Lombarivier, in die suide van Angola, deelgeneem het. Hulle staan bekend as Charlie-eskadron, die sogenaamde ystervuis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep wat uit 84 man bestaan het. Met soveel wat teen hulle tel – die terrein, die getalsoorwig van die Angolese mag en wapentuig – slaag hulle tog daarin om die Goliat te oorwin en die Angolese 47 Brigade so te sê uit te wis.

Scholtz pak hier ’n nuwe soort geskiedskrywing aan wat verskil van sy vorige werke waar hy meer oor vraagstukke en tendense in die oorlog geskryf het.

Hy het tientalle onderhoude en gesprekke gevoer om die boek saam te stel en diep onder die indruk gekom van hoe maande in die bos jong mans “liggaamlik en tussen die ore beskadig het”.

Scholtz het verduidelik watter ongelooflike impak die opleiding op die soldate gehad het en deur watter moeilike tye hulle is omdat hulle nooit oor wat hulle deurgemaak het, mag gepraat het nie. “Van hul ervarings en gebeure was so ver buite die verwysingsraamwerk van gewone mense dat hulle in elk geval nie daaroor kon praat nie.”

Volgens Scholtz was een van die vrae waarmee die groep jare lank geworstel het: Hoekom was ons daar? “Die antwoorde het ek in argiewe gaan soek en ná 30 jaar verstaan die manne hoekom hulle in gepantserde voertuie grens toe is.”

Scholtz meen die Grensoorlog gaan nog vir jare onder sekere mense leef. “Ons het taktiese foute gemaak, maar ons het ook gewys wat in ons steek. Die SAW het die vyand telkemale laat vou. Ons kan ons soldate se vindingrykheid, dapperheid en gedissiplineerdheid nie ontken of onderskat nie.

“Dit is waar dat dit vir van hulle ‘hel’ moeilik was om later weer by die burgerlike lewe aan te pas, maar baie het ook ’n groot sukses van hul lewens gemaak.”

Lubbe se bydra in die vorm van From Cunene to Cabo Delgado, is ’n unieke en uitsonderlike fotoboek oor die Grensoorlog. Dié boek volg op sy  Grensoorlogpublikasie, Van Ovamboland tot Masjonaland.

Die nuwe boek bevat sowat 580 foto’s waarin die Bosoorlog versinnebeeld word. Die foto’s is uit sowat 16 000 gekies wat hy van verskillende mense en bronne gekry het. “Elke foto het karakter en inhoud wat sy eie storie vertel.”

Elke aspek van die oorloë wat oor ’n tydperk van 28 jaar in Suidwes-Afrika, Angola, Rhodesië en Mosambiek gewoed het, word op ’n treffende en soms selfs skokkende wyse uitgebeeld deur die oë van hulle wat daar was.

“Ek was ’n polisieman in die Caprivi en Rhodesië en nooit self in die weermag nie. Maar hoe meer ek oor die soldate en die oorlog gelees het, hoe meer bewondering én ’n heldeverering het ek vir hulle gekry. Dit is vir my belangrik dat dié verlede onthou en geboekstaaf moet word.”

Ratels aan die Lomba kos R230 en From Cunene to Cabo Delgado R360. Die publikasies kan van Kraal Uitgewers bestel word. Besoek die webtuiste www.kraaluitgewers.co.za of skakel die uitgewer by 012-880-1953.

 

 

Soortgelyke plasings