Grace Mugabe-saak: Zimbabwiese ambassade onttrek uit hofverrigtinge


Die regsproses van AfriForum en mej. Gabriella Engels teen mev. Grace Mugabe en die minister van internasionale betrekkinge en samewerking het vandag ’n interessante wending geneem toe die Zimbabwiese ambassade onverwags uit die hofverrigtinge onttrek het nadat hulle vroeër aansoek gedoen het om as belanghebbende party tussenbeide te tree.
Die onttrekking van die Zimbabwiese ambassade was ’n groot verrassing, veral gesien in die lig van die uitspraak van regter Harshila Kooverjile vandag. In haar uitspraak het regter Kooverjile die Zimbabwiese ambassade sewe dae gegun om bykomende eedsverklarings te liasseer om te bevestig of hulle mev. Grace Mugabe verteenwoordig. Sou die ambassade haar nie verteenwoordig nie, moet hulle redes aanvoer waarom hulle ’n belanghebbende party in die litigasie is. Dié nuwe wending beteken dat die hersieningsaansoek van AfriForum en mej. Engels nou weer ten volle op dreef is en dat die partye by die eerste beskikbare geleentheid ’n bevel sal kry om mev. Mugabe in die verdere hofverrigtinge te siteer en om die hersieningsaansoek so spoedig moontlik te laat aanhoor.
Die verwagting is dat adjunk-regter-president Aubrey Ledwaba volgende week ’n spesiale toewysing van ’n voorkeurhofdatum in die bestrede mosiehof sal maak, waar mej. Engels en AfriForum se aansoek waarskynlik aangehoor sal word saam met ’n ander aansoek wat oor dieselfde aangeleentheid deur die DA gebring is.
Verskeie organisasies het reeds aangedui dat hulle as vriende van die hof of amici curiae tot die saak wil toetree, insluitend Freedom Under Law, Lawyers for Human Rights en ’n vroueregte-organisasie. Die verwagting is dat ’n spesiale hofdatum hopelik voor die einde van die jaar of andersins vroeg aanstaande jaar deur die adjunk-regter-president toegewys sal word.
Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het die verwikkelinge vandag verwelkom en gesê dat die uitspraak van regter Kooverjile ’n wyse uitspraak is wat in moeilike omstandighede verleen is.

Soortgelyke plasings