|

Gr.9-sertifikaat is ’n ideologiese klug van die ANC

Daar is ’n ou gesegde wat lui hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Dit is waarskynlik honderd persent waar van die idees en beleide waarmee die departement van basiese onderwys en die ANC van tyd tot tyd vorendag kom.

Die nuutste “ou plan” is ’n skoolverlatersertifikaat aan die einde van gr. 9, ook genoem die Algemene Onderwyssertifikaat (AOS).

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die afgelope week baie verontwaardig gereageer oor sogenaamde misleidende berigte oor die AOS in die media.

Die werklikheid is egter dat Motshekga, die departement en die ANC die publiek alweer mislei met ’n plan wat tot mislukking gedoem is.

’n Skoolverlatersertifikaat aan die einde van gr. 9 is niks nuut nie. Daar is inderwaarheid reeds in 1995 in die ANC se witskrifte oor onderwys daarvan melding gemaak. So was dit ook in 2002, 2006 en 2015 ook op die kaarte.

Onderwyskundiges vra tereg wat die doel van dié sertifikaat is. Is dit om die derduisende skoliere wat teen gr. 9 in elk geval uit die stelsel val darem wel met ’n sertifikaat uit te reik al is dit waardeloos of is dit om die matriekslaagsyfer beter te laat lyk?

Die departement voer aan die sertifikaat moet ingestel word om duisende skoliere te help om toegang tot beroepsgerigte opleiding en tegniese kolleges te kry. Dit is goed en wel maar die geskiedenis van die departement spreek boekdele oor sy onvermoë om planne soos die te implementeer. In die eerste plek is daar nie naastenby genoeg tegniese skole of gehalte-kolleges vir verdere onderwys en opleiding waarheen leerlinge ná gr. 9 kan gaan om vaardigheidsopleiding te kry nie. Boonop is dit ondenkbaar om te dink dat die oorplasing van skoliere na sulke skole en kolleges seepglad sal verloop gegewe die heersende chaos rondom die plasing van leerlinge in Gautengse skole.

Nog ’n tergende vraag is wat die gehalte van die gr.9-sertifikaat gaan wees. Gaan leerlinge ’n gestandaardiseerde nasionale eksamen aflê of gaan elke skool sy eie eksamen skryf en sy eie sertifikaat uitreik? ’n Mens kan maar net aan die logistieke nagmerrie hier rondom dink gegewe die probleme wat reeds elke jaar rondom die matriekeksamen ondervind word wat deur helfte minder leerlinge as in gr.9 afgelê word.

Miskien moet die departement eerder daarna kyk om vakke soos tegniese wiskunde en tegniese wetenskap in meer sogenaamde hoofstroom akademiese skole aan te bied. Dit sal leerlinge in staat stel om dan steeds ’n matrieksertifikaat te verwerf waarna hulle met ’n ambag of beroepsopleiding kan begin.

Die ANC speel met vuur met hierdie plan om derduisende jeugdiges op 15 of 16 jarige ouderdom as’t ware uit die skoolstelsel te dwing om deel van die bykans 30% werkloses in die land te word. Meer innoverende maniere is nodig om jeugdiges, wat nie matriek kan voltooi nie, op te lei en vir die arbeidsmark voor te berei. Suid-Afrika se ekonomie gaan eenvoudig verder onder hierdie plan ly en ’n toename in misdaad en werkloosheid sal ons voorland wees.

Soortgelyke plasings