|

Gordhan-begroting waarsku SA ekonomie is in moeilikheid

Ondanks skermutselings buite die parlement vanmiddag, waar die polisie skokgranate moes gebruik om betogende studente uiteen te jaag, het Pravin Gordhan, minister van finansies, geen toegewings vir gratis hoër onderwys gemaak nie.

Gordhan het tydens sy mediumtermynbegroting gesê die regering en tesourie het tyd nodig om die tegniese aard van voorstelle te deurtrap wat rondom die finansieringskrisis in hoër onderwys gemaak is.

“Die parlement verstaan die bekommernisse van ouers en studente, maar normaliteit moet op kampusse herwin word. Ons wil nie die 2016 akademiese jaar verloor nie. Ons wil hê die geweld moet eindig.”

Volgens Gordhan moet die private sektor en universiteite help om met oplossings vir die krisis vorendag te kom.

Hy het aangekondig dat ʼn bykomende R9 miljard in 2017 by die nasionale studentefinansieringshulpskema (Nsfas) gevoeg sal word, wat beteken dié befondsing verhoog met 18% per jaar. Naas die delging van regeringsskuld, is die bestedingsbegroting vir hoër onderwys nou die hoogste.

Gordhan het daarop gewys dat die uitbreiding van toegang tot hoër onderwys vinniger gegroei het as die beskikbaarheid van hulpbronne wat deels vir die huidige krisis verantwoordelik is.

Hy het gesê die Suid-Afrikaanse ekonomie is in die moeilikheid, maar nog nie aan die agteruitgaan nie. Voorgestelde ekonomiese groei wat vroeër op 0,9% gestel is, is nou op 0,5% vasgestel.

Gordhan het gesê die land se skuld in totaal beloop sowat R2 triljoen wat daarop neerkom dat sowat R147 miljard jaarliks aan rente alleen op dié lening betaal moet word.

Hy het verskeie kere in sy toespraak verwys na die keuse tussen rykdom vir ‘n uitgesoekte groep en rykdom wat almal bemagtig. Hy het gesê die nasie is by ʼn ekonomiese en politieke kruispad en die toekoms gaan van ons vereis om teen ons eie swakhede te baklei. “Ons moet eerlik na onsself en wat werk en nie werk nie kyk asook na dit wat moet verander.”

Hy het gesê die stemme van woede en ontevredenheid is toenemend ontstellend en dit lei tot onaanvaarbare gedrag deur mense by hoër onderwys instellings en munisipaliteite.

Volgens Gordhan lei erodering van vertroue in die land tot ’n afname in investering en beleggings. “Fiskale beleid alleen gaan nie ons probleme oplos nie. Dit is tyd dat nasionale belang eerste gestel word en vertroue in die ekonomie teruggebring word. Vertroue in die land moet herbevestig en die sosiale kontrak eerbiedig word. Oppergesag van die reg, verantwoordbaarheid en waarde vir geld, moet voorop gestel word.”

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het in reaksie op Gordhan se begroting gesê: “Die ANC-regering is aan dieselfde kant as die studente wat gratis hoër onderwys betref. Hy het gesê die akademiese jaar is nie verlore nie en daar is nog geleentheid om die situasie te beredder.”

Nzimande het gesê hoewel studente die reg op vreedsame protesoptogte het, is die ware kwessies rondom hoër onderwys deur politieke partye soos die EFF gekaap.

Musi Maimane, leier van die DA, het op sy beurt gesê die studente-optogte is die gevolg van ’n regering wat die mense versaak het. “Net soos wat pasiënte nie hospitale kan verwoes as hulle nie met die behandeling tevrede is nie, kan studente ook nie universiteite afbrand en vernietig nie. ’n Kultuur van geweld kan nie die norm word om boodskappe van ontevredenheid oor te dra nie.”

Soortgelyke plasings