|

Geskiedenis, erfenis en taal hoog op agenda van beraad

Die Solidariteit Beweging het vandag by sy Toekomsberaad wat deur byna 3 000 mense bygewoon is beklemtoon hoe belangrik die behoud en beskerming van die Afrikaner se geskiedenis, erfenis en taal is.

Op dié dag (10 Oktober) waarop oudpres. Paul Kruger 190 jaar gelede gebore is, is na die wyshede van die staatman verwys wat in sy laaste boodskap geskryf het: “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is en bou daarop die toekoms.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het gesê daar heers op die oomblik ’n onverdraagsaamheid teenoor Afrikaner-simbole. Die geskiedenis word eensydig in oorvereenvoudigde terme soos “boos” en “goed” aangebied.

Hy het gesê die kriminalisering van die Afrikaner se geskiedenis is kommerwekkend en die vraag is of die skynbare opkoms van rassisme onder jong swart studente nie grootliks hierdeur beinvloed is nie.

Volgens Langner het die kriminalisering van die geskiedenis ook ’n negatiewe invloed op Afrikaner-jongmense se identiteitsbesef en kulturele selfvertroue.

Die beweging se uitgangspunt is dat wedersydse respek en erkenning van almal se erfenis en standpunte nodig is.

Verskeie aksies en optrede word beplan om Afrikaners se geskiedenis, erfenis en taal te laat oorleef.

Dit sluit in hofaksies teen die vandalisering van monumente en standbeelde, geldelike steun aan die Erfenisstigting om herstelwerk aan monumente te doen en die vrystel van hoë gehalte boeke oor Afrikaner-geskiedenis deur Kraal-Uitgewers.

Die FAK is besig om ’n handleiding te ontwikkel vir erfenisbewaring in gemeenskappe en ’n beraad sal gehou word om die koördinering van Geloftefeeskomitees te verbeter.

Oor geskiedenis het Langner gesê Afrikaners moet besef dat geskiedenisonderrig hul eie verantwoordelikheid is. Instellings van die beweging gaan hulpbronne beskikbaar stel sodat die geskiedenis gebalanseerd aangebied kan word. Lesplanne wat aanvullend tot die kurrikulum kan wees, sal ontwikkel word.

Voorts het die FAK ’n internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis ontwikkel wat gesinne kan bystaan met hul verantwoordelikheid van geskiedenisoordrag.

Wat Afrikaans betref, het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, die noodsaaklikheid van die voortbestaan daarvan as hoëfunksie taal beklemtoon.

Verskeie regsaksies gaan oor die volgende vyf jaar gevoer word om Afrikaans in die openbare sektor te beskerm.

Samewerkingsooreenkomste tussen Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies en ander taalgemeenskappe gaan uitgebou word.

AfriForum gaan ook sy Afrikaans-Vriendelik-projek uitbou om sakelui aan te moedig om ’n omvattende diens in Afrikaans te lewe

Soortgelyke plasings