|

Gesindhede moet verander as ons wil bou

Dit het dr. Rina Venter, die enigste vrou wat voor 1994 in die Suid-Afrikaanse kabinet gedien het, 12 jaar geneem om haar boek ’n Stukkie van die legkaart te voltooi.

Dis ’n boek wat lig werp op die insae en insig wat sy as minister van gesondheid en welsynsdienste onder die F.W. de Klerk-bewind gehad het tydens die oorgang van apartheid na ’n demokrasie. Maar dis ook ’n insiggewende bydrae oor die lot en posisie van die Afrikaner tussen 1938 en 1994, Venter se baanbrekerswerk as maatskaplike werker en haar samewerking met wit én swart vroue.

Venter is openlik eerlik oor talle foute wat tydens die onderhandelingsproses gemaak is, maar meen dit baat nie om voort te gaan om daarop te bly wys nie. “Dis eerder nodig dat ons lesse hieruit leer en ’n beter toekoms bou.”

Volgens Venter was daar swak beplanning, ontleding en bestuur van die omvattende oorgangsproses. Belangrike sake wat hanteer moes word het eenvoudig nie genoeg aandag gekry nie. Een daarvan was die reorganisasie van die apartheidsadministrasie. Swak aandag is gegee aan die ontwikkeling van sowel ’n nuwe sosio-maatskaplike politieke waardegrondslag vir die land as aan ’n program vir regstellende aksie. “Die ongeregtighede en probleme wat ons vandag in dié verband ervaar, kan teruggevoer word na die swak ooreenkoms oor regstellende aksie wat aangegaan is. Dit het uitgeloop op ongeregtigheid teenoor amptenare, verlies en uittog van kundigheid en gevolglike korrupsie en wanadministrasie as gevolg van onervare aanstellings wat in die administrasie van die land gemaak is. Die ANC het sy politieke agenda uitgevoer en in die proses van kundige wit én swart mense ontslae geraak.”

Venter is uitgesproke oor die wanvoorstellings wat die ANC tydens die proses gemaak het. “Die ANC het nooit in goedertrou onderhandel nie en deurlopend ’n wanvoorstelling gemaak dat die destydse regering niks vir swart mense gedoen of omgegee het nie. Die waarheid is dat belangrike regstellende en ontwikkelingsprogramme suksesvol deur die destydse regering in werking gestel is.

“Die NP was nie voorberei en opgewasse teen die ANC se fel ideologiese aanslag, soos gebaseer op die Vryheidsmanifes, met sterk politieke wanvoorstellings nie. Hierdie kwessie wou keer dat die nuwe politieke proses ons politieke integriteit herstel. Die ANC het voorgehou dat ons aan apartheid en die verlede wil bly vasklou. Die ANC het met sy sosiaal demokratiese revolusie gekom en die doeltreffendheid van die bestaande administrasie ondergrawe ten einde sy eie sosialistiese doelwitte te bereik.

“Die ANC het dit reggekry om swart en wit minderhede te isoleer en te ondermyn met sy wanvoorstelling dat minderhede apartheid wil behou. Hierdie persepsie móét reggestel word as ons geregtigheid in die land wil herstel.

“Ons hoop lê nie in die ANC nie. Ons moet verby sy ideologiese siening van die land saam soek na ’n nuwe gemeenskaplike sosio-politieke en ekonomiese waardegrondslag en daardie lewenskwaliteite wat ons sterk maak. Afrikanerskap het steeds sin en betekenis. Ons kan ’n verskil maak as ons die regte gesindheid openbaar. Ons moet die vermoë van die staat mobiliseer op grond van erkende internasionale beginsels wat doeltreffende bestuur verseker. Daar is positiewe kwaliteite in al ons mense. Wit én swart soek raad en leiding en ons sal eenvoudig saam moet werk.”

Venter het haar doktorale navorsing oor die proses van verandering gedoen. Hierdie ervaring en kennis wil sy verwerk in ’n handleiding wat kan help om ’n proses van verandering in die land doelgerig te help bestuur.

Sy wys daarop dat baie aandag tydens die onderhandelingsproses aan die ontwikkeling van die Grondwet gegee is. “Die indruk is geskep dat solank ons ’n goeie Grondwet ontwikkel dit genoeg is vir ’n suksesvolle oorgang. Die waarheid is egter dat maatskaplike onrus sedert 1983 in swart woongebiede vererger het omdat die ANC dié gebiede onregeerbaar gemaak het ten einde self politieke beheer oor te neem. As ons dit verstaan, verstaan ons waarom ’n radikaal nuwe proses nodig is om die krisis in die land op te los.

“Ons moet ook baie mooi verstaan dat die sogenaamde vredesproses nie werklik oor ‘vrede maak’ gegaan het nie. ’n Vredesproses vereis ’n gesindheidsverandering binne-in mense. Waar begin ’n mens om iemand te help om sy lewe te verander? Watter motivering het mense om te wil verander? En wat moet verander ten einde werklik ’n verskil te maak? Wat verstaan mense byvoorbeeld onder persoonlike verantwoordelikheid en dies meer?”

Venter wys daarop dat die ANC tydens die onderhandelinge nie hul vyandige houding teenoor die destydse regering verander het nie. “Hulle het geglo dis hul reg as meerderheidsparty om onbeperkte mag oor te neem. As daar nie ’n gesindheidsverandering by wit en swart intree nie, gaan niks in die toekoms verander nie. Ons moet na mekaar luister en mekaar respekteer om konstruktief te kan bou.

“Dis tyd dat die ANC ook erken dat hulle nie vir vredesprosesse ontvanklik was nie en die destydse regering as rassiste bly sien het. Die ANC het die goeie inisiatiewe van De Klerk verwerp en voorgehou dat as gevolg van apartheid, wit mense dit nie verdien dat daar met hulle vrede gemaak word nie.

“Dis tyd om negatiewe houdings te verander sodat ’n proses begin om groot massas mense met doelgerigte ondersteuning by te staan en te ontwikkel. ’n Radikale nuwe hulpproses en ondersteuningstelsels is nodig. Afrikaners het in die dertigerjare met groot ondernemingsgees saamgestaan om hulself uit armoede op te hef. Ons verstaan hierdie prosesse en wil steeds alles vir almal in die land doen om die armoedevraagstuk doeltreffend te hanteer.”

As Venter oor haar loopbaan terugdink, is dit steeds die opheffingswerk wat sy onder vroue in Danville, Pretoria gedoen het wat vir haar uitstaan. “Dit was wonderlik om te sien hoe vroue ontluik met hulp wat hulle bemagtig en in staat gestel is om hulself en hul gesinne beter te versorg. Hul selftrots is versterk. Mense moet leer en besef dat verwagtinge en begeertes nie vervul kan word sonder dat jy daarvoor werk nie. Die ANC konsentreer hulp op staatstoelaes sonder begeleiding wat mense help om self die leer na sukses te klim.”

Volgens Venter het sy voordat sy die boek begin skryf het verskeie stokperdjies soos ikebana beoefen. “Die skryf van die boek het my as ’t ware ingesluk. Ek is gelukkig nou vry daarvan en kan nou weer my voete vind en nuwe dinge aanpak.”

* Dr. Rina Venter met haar boek ’n Stukkie van die legkaart. Foto: Reint Dykema.

Soortgelyke plasings