|

Geregtigheid seëvier vir AfriForum-takvoorsitter ná #SwartMaandag-voorval

Die saak teen Isolde Laesecke, ʼn AfriForum-takvoorsitter van die Vrystaat, wat in 2016 aangekla is vir die reël van ʼn onwettige byeenkoms en verkeersontwrigting, is vandag in die landdroshof in Bethlehem teruggetrek.

Laesecke, asook drie ander mense in Limpopo, is in November 2016 aangesê om by hul onderskeie polisiekantore aan te meld na afloop van hul deelname aan die #SwartMaandag-optogte, ’n nasionale bewusmakingsaksie teen plaasmoorde.

Laesecke sê sy was verbaas oor die klagte omdat die betogers in Bethlehem skriftelike toestemming gehad om met die optog voort te gaan. Die optog is ook op private eiendom in die dorp se industriële gebied gehou.

Sy is van mening dat die klag teen haar polities gedrewe was.

“Ek is baie verlig dat die saak afgehandel is, maar ook teleurgesteld omdat dit ’n mors van tyd en belastingbetalers se geld was om my drie keer in ’n hof te laat verskyn voordat iemand na die wetlike aspekte van die saak gekyk het.”

Laesecke het gesê ondanks die onregverdigheid rondom dié aangeleentheid wil sy AfriForum-lede steeds aanmoedig op te staan vir wat reg is, maar om altyd binne die raamwerk van die wet op te tree.

Barend Uys, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die burgerregte-organisasie deurgaans by Laesecke gestaan het en haar die nodige ondersteuning gegee het. “AfriForum-lede kan verseker wees in die organisasie se bystand wanneer hulle onregverdig behandel word of daar onregmatig teen hulle opgetree word.”

Soortgelyke plasings