Spyskaart +

Gemengde reaksie oor gr. 9-skoolsertifikaat waaraan departement al 13 jaar beplan

Julie 14, 2015 deur Alet Rademeyer

Dertien jaar nadat die departement van basiese onderwys met groot fanfare ’n algemene onderwys- en opleidingsertifikaat (GET) vir gr. 9-leerlinge aangekondig het, is dit weer op die tafel.
Onderwyskundiges het uiteenlopende sienings oor die jongste plan om vanaf 2017 ’n skoolverlatersertifikaat aan gr. 9’s uit te reik.

Die aanvanklike doel met die GET was om leerlinge wat skool aan die einde van gr. 9 wil verlaat, met ’n sertifikaat toe te rus waarmee hulle kon gaan werk soek of by kolleges vir verdere onderwys en opleiding kon uitkom.
Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê daar is vandag ’n groot aandrang op die instelling van die sertifikaat. “Daar is ’n baie groot behoefte om leerlinge wat nie skool kan voltooi nie, so gou moontlik meer opsies en alternatiewe tot onderwys en opleiding te gee.”
Volgens Klopper is dit veral nodig vir kinders van 19 of 20 jaar wat verby die skoolverlatersouderdom is. Daar is na raming sowat 30 000 sulke leerlinge in die skoolstelstel.

Klopper meen nie dat openbare kolleges vir verdere onderwys en opleiding noodwendig gerat is om ’n heenkome vir gr. 9’s te wees nie. “Die kolleges is midde in herstruktureringsprosesse en die fokus is nie nou noodwendig op gehalte-onderrig nie.”
Klopper is egter optimisties oor al meer geleenthede wat vir leerlinge in die private sektor kan oopgaan met groot werkgewers soos myne en die spoorweë wat na hul eie opleidingskolleges kyk.
Phillip Minnaar, hoof van Sol-Tech, Solidariteit se opleidingskollege, meen dit is nie wenslik om studente op 16 jaar in te neem nie. Voorts bepaal wetgewing dat kinders tot op 15 jaar skoolpligtig is en nie voor dit in diens geneem mag word nie.
“Dit dilemma is dat die kinders na gr. 9 geen onderbou in wiskunde en wetenskap het nie, wat veroorsaak dat hulle sukkel om die mas op te kom in opleiding. Daar is uitsonderings, maar in die algemeen sukkel kandidate wat te jonk is.”

Minnaar is meer positief oor die instelling van die nuwe kurrikulum vir tegniese hoërskole wat na verwagting volgende jaar begin. Die kurrikulum sal ’n groot verbetering wees vir kinders wat nie universiteit toe kan gaan nie en hulle sal vinniger by ’n werkplek kan instap. Tegniese wiskunde en tegniese wetenskappe sal van die vakke wees wat kandidate toelating tot ingenieurstudie en ambagsopleiding sal gee.
Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het gesê die organisasie is bekommerd dat die gr. 9-sertifikaat glad nie tot gehalte-onderrig sal bydra nie.
“Leerlinge wat skool op 15-jarige ouderdom verlaat, het nie noodwendig geleentheid om by ’n ander instansie te studeer nie en daar is ook ernstige kommer oor die gehalte van VOO-kolleges se onderrig.”

Volgens Bloem is werkloosheid klaar ’n groot probleem in Suid-Afrika. “Baie jongmense met ’n matrieksertifikaat sukkel om werk te kry. Hoeveel meer gaan 15-jariges nie sukkel nie….”
Bloem het ook gesê ’n hoërskoolloopbaan speel ’n belangrike rol in die akademiese en sosiale ontwikkeling van leerlinge. “Op 15 is leerlinge nog nie opgewasse om hulself suksesvol in die samelewing te handhaaf nie.”

Sy het voorts gesê die instelling van so ’n sertifikaat kan die idee by ouers en leerlinge laat posvat dat hulle wel emosioneel volwasse genoeg is en ’n kans op ’n loopbaan het. “Dit mag leerlinge wat dalk skool kon voltooi, aanmoedig om die skoolbanke vroeër te verlaat.”
Bloem het gesê AfriForum sal voortgaan om leerlinge bewus te maak van die waarde om hul skoolloopbane nie voor matriek te beëindig nie.

’n Opvoedkundige sielkundige van Pretoria meen Suid-Afrika is glad nie gereed om jongmense op 15 jaar uit die skoolstelsel te sluit nie. “Die uiteinde gaan duisende jongmense sonder werk of opleidingsgeleenthede wees wat moed en hoop vir die toekoms sal verloor as hulle bloot net deel van die werklose massa word.

“Soveel skoolverlaters is nie eens in matriek emosioneel volwasse genoeg om te besluit wat om met die res van hul lewens te maak nie. Om leerlinge sonder enige beroepsvaardighede na gr. 9 die wêreld in te stuur, is ondenkbaar.”