Gemeenskapsveiligheid: Projek Nehemia snoer Fochville saam


Meer as 60 inwoners van Fochville het op 24 November 2017 aan ’n Projek Nehemia-vergadering deelgeneem wat op die skep en ontwikkeling van veiligheidstrategieë binne gemeenskappe fokus.
Projek Nehemia – wat gelei word deur genl.maj. Roland de Vries, voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër – het ten doel om gemeenskappe te bemagtig en te mobiliseer om onder meer geweldmisdaad doeltreffend en strategies te bekamp.
Die vergadering in Fochville is deur James Eayrs, André van den Bergh en Bernadette Hall gelei, en was ’n uitvloeisel van verskeie vergaderings wat reeds vroeër vanjaar gehou is.

“Aktiewe gemeenskapsdeelname en -betrokkenheid speel die kernrol in die uitvoer van Projek Nehemia, terwyl AfriForum onder meer die koördinering van verskillende gemeenskappe en strukture behartig,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek.

Projek Nehemia se toetsfase is vroeër vanjaar in Bloemfontein van stapel gestuur en vandaar na ander dorpe soos Fochville uitgebrei.

“Die Projek Nehemia-veiligheidskonsep en -strategie maak voorsiening vir die stelselmatige en doelgerigte vestiging van gemeenskapveiligheidsteunkringe en -eenhede. Ons wil saam met alle belangstellende gemeenskappe, persone en belangegroepe in dié verband werk,” sê De Vries.

AfriForum is tans besig om veiligheidstrukture en -inisiatiewe te skep en versterk wat daarop gemik is om geweldsmisdaad in dorpe en landelike gebiede soos plase te bekamp.

Soortgelyke plasings