|

Gemeenskappe moet steeds verantwoordelikheid vir hulself neem

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede gisteraand ’n Suid-Afrika vir die volgende dekade in die vooruitsig gestel wat klaarblyklik niks anders as ’n hersenskim is nie.

Baie beloftes is gemaak wat gegewe die huidige krisisse rondom die ekonomie, werkloosheid, swak onderwys en gesondheidsorg en misdaad en geweld eenvoudig nie haalbaar is nie. Opposisiepartye, akademici en politieke ontleders het Ramaphosa met reg na dié tyd gekritiseer oor die onrealistiese droom wat hy aan Suid-Afrikaners voorhou.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê die staatsrede is ’n sprekende voorbeeld van ANC-ideologie wat met die werklikheid gekonfronteer word en die ANC wat kies om eerder aan sy ideologie te kleef. “Die president besef die land is in ’n krisis en hy onderneem om ’n utopie te skep, maar hy beoog om dit met ’n aksieplan te bereik wat nie net onrealisties is nie, maar wat ook waarskynlik destruktief sal wees.”

Roets sê al die krisisse wat Ramaphosa uitgewys het, is weens die regerende ANC se politieke ideologie geskep. “Die president se utopiese beloftes oor slimstede met wolkekrabbers, sneltreine, goedkoop data, dat niemand in die land honger sal ly nie, dat die ekonomie vinniger sal groei as die bevolking, dat gehalte-onderwys aansienlik sal verbeter en dat geweldmisdaad sal halveer of moontlik selfs geheel en al sal verdwyn, gaan nie met realistiese aksieplanne gepaard nie.

“In sy toespraak het hy gesê die staat is die oplossing en dat die staat ’n meer entrepreneuriese rol moet speel en ‘meesterplanne’ moet uitvoer om die ekonomie te bou. Voorgestelde oplossings vir verskeie krisisse is telkens dat die staat meer betrokke moet raak, wat meebring dat die staat meer geld moet bestee.

“AfriForum is van mening dat die oplossing eerder daarin gesetel is om aan die samelewing groter vryheid te gee sodat mense en gemeenskappe hul lewens volgens hul keuse kan inrig, hul besigheid sonder staatsinmenging kan doen en dat mense met vaardighede aangestel kan word om die ekonomie te groei. Die staat is nie die oplossing vir mense se probleme nie en Ramaphosa se planne is eerder daarop gemik om mense meer afhanklik van die staat te maak. Dit sal daartoe lei dat die probleme in die land net verdiep,” sê Roets.

TLU SA het Ramaphosa se aanmoediging dat die publiek Suid-Afrikaanse produkte moet koop en ondersteun verwelkom en gesê as Suid-Afrikaanse landbouprodukte gekoop word, sal dit outomaties werkskepping bevorder terwyl die kommersiële boere daardeur ’n kans op oorlewing het ten spyte van die veral klimatologiese uitdagings, waarmee hulle te doen het.

Louis Meintjes, president van TLU SA, meen Ramaphosa se aanvanklike verwysing na die 1913-wetgewing, meer as ’n eeu gelede, is ’n kyk na die verlede in plaas van ’n toekomsvisie. “Dit kan bots met ’n toekomsvisie. As alle burgers gelyk gerespekteer moet word, geld dit ook vir die Afrikaners.”

Meintjes sê voorts Ramaphosa was nie realisties in sy visie van twee miljoen werksgeleenthede vir jongmense oor die volgende dekade nie. Sy voorganger se een miljoen het nie eens gerealiseer nie. Om dit te bereik, sal hy moet afsien van rasgebaseerde ekonomiese bemagtiging, en onvriendelike arbeidswetgewing moet aanpas. Hy meen voorts dat Ramaphosa ’n gulde geleentheid verpas het om daadwerklike steun aan die landbouers te gee en om plaasmoorde te veroordeel.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het op Ramaphosa se verwysing dat kinders onderrig moet word om met begrip te lees gereageer en gesê die opleiding van grondslag- en intermediêre fase opvoeders om leesvaardighede te onderrig, is ’n formidabele uitdaging aangesien dit sowat 120 000 opvoeders impliseer. Om die onderwysers deur ’n weldeurdagte program te plaas, gaan besondere eise aan opvoeders en skole stel. Die SAOU meen spesialis-taalopvoeders sal ook betrek moet word.

Ramaphosa se reddingsboei van R230 miljard oor tien jaar aan die sukkelende Eskom, is ook skerp gekritiseer deur ekonome wat meen die staat kan nie langer voortgaan om instellings soos dié, die SAL, die SAUK en ander voortdurend uit hul finansiële verknorsing te red nie.

Ramaphosa het gesê sy administrasie gaan hom op sewe punte toespits naamlik ekonomiese transformasie en werkskepping; onderwys; vaardigheidsopleiding en gesondheidsorg; die konsolidasie van maatskaplike toelae deur betroubare en openbare dienste van goeie gehalte; menslike nedersettings en munisipale bestuur; maatskaplike kohesie en veilige gemeenskappe; ’n bevoegde etiese en ontwikkelingstaat; ’n beter Afrika en ’n beter wêreld.

Heelparty ontleders meen dít grens aan lugkastele en Ramaphosa sou meer geloofwaardig oorgekom het indien hy op van die ideale afgeskaal het.

Soortgelyke plasings