|

Geen virus laat Dink of Sink- debatskompetisie sink nie

Deur Carien Bloem, bestuurder vir onderwys

Die onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerders Dink of Sink word sedert 2017 nasionaal aangebied met vyf streekuitdunrondtes regoor die land asook in Namibië, gevolg deur ’n landwye finale rondte.

Dink of Sink trek vanjaar in die lig van die COVID-19-pandemie ’n veilige baadjie aan en hou ’n virtuele kompetisie. Die idee van die virtuele kompetisie is om leerders steeds die geleentheid te gee om in spanne teen hul eie skoolmaats te debatteer oor onvoorbereide onderwerpe.

Die formaat van die kompetisie bly presies dieselfde en met ’n paar eenvoudige stappe kan twee spanne aanlyn registreer. Die spanne sal dan ’n unieke onderwerp ontvang en kan dadelik wegspring met hul debat. Hierdie keer moet die debat wel met ’n selfoon afgeneem word en aan AfriForum Onderwys gestuur word. Die debatte word ekstern beoordeel en die wenspanne sal met heerlike pryse beloon word.

Hou gerus AfriForum se sosialemediaplatforms dop, asook ons mediavennote Beeld, Die Burger en Volksblad se Facebook-bladsye vir meer inligting oor die kompetisie. Inligtingstukke sal ook na skole versprei word.

Spanne het van 1 Junie tot 30 November 2020 kans om te registreer en vir debatte in te skryf. Op die manier sink leerders se redenasievermoë nie vanjaar weens die COVID-19-pandemie nie, maar leer hulle steeds waardevolle redenasievaardighede en kry die geleentheid om sinvol standpunt in te neem.

Moenie op julle laat wag nie, neem deel aan vanjaar se virtuele onvoorbereide debatskompetisie Dink of Sink!

Soortgelyke plasings