Gebrek aan verpleërs maak Nasionale Gesondheidsversekering onmoontlik


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag gesê die kritieke en toenemende tekort aan verpleegpersoneel in Suid-Afrika is ’n fatale swakplek in die strewe om die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking te stel. Daar is onlangs berig dat verskeie probleme – veral aftrede van ouer verpleërs – dié beroep bedreig.

Dr. Eugene Brink, gesondheidswoordvoerder by AfriForum, sê hoewel die kwessie rondom verpleërs ’n nypende probleem is wat nog gaan vererger, is daar ook ander gebreke in die gesondheidstelsel wat die NGV in die kiem smoor. “Die NGV-plan is skadelik en gaan bloot net nie werk nie – die tekort aan verpleërs is net een simptoom daarvan. Baie verpleegpersoneel en dokters emigreer of verlaat die beroep oor die algehele haglike toestande in die openbare gesondheidsektor en die swaard van NGV wat oor die privaat sektor hang.”
Volgens Brink is die tekort aan politieke wil, asook die verkeerde idees te blameer vir hierdie gemors.

“Met opleiding van medici en lewering van gesondheidsdienste moet die staat na die privaat sektor uitreik en sy eie verantwoordbaarheid verhoog ten opsigte van veral die bestuur van hospitale en die onderskeie gesondheidsdepartemente en hul begrotings.
“Die ANC-regering droom as hulle dink hulle kan die NGV-plan instel in ’n omgewing waarin jou hulpbronne al hoe skaarser word. Hulle sal die administratiewe struikelblokke en rompslomp uit die weg moet ruim om opleiding deur die privaat sektor stukrag te gee en dan aandag moet skenk aan die ander aspekte in die stelsel wat personeel wegdryf. Gesondheidsdienste is bloot te belangrik om dit aan ’n onbevoegde staat oor te laat.”

AfriForum is besig met ’n veldtog om die publiek se stories oor hul slegte ervarings by hospitale vir ’n omvattende verslag in te samel en hulle kan dit by https://afriforum.co.za/vertel-jou-verhaal-gesondheidsverslag/ deel.

“’n Groot aantal mense het reeds hul rillerverhale oor veral openbare hospitale vertel en dit is tekenend van die wanfunksionaliteit van die stelsel,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings