|

Gebede is nodig vir slagoffers van plaasaanvalle

AfriForum en Pretoria FM bied op Vrydag (17 Julie) ’n biduur aan vir die slagoffers van plaasmoorde en –aanvalle.

Dit sal regstreeks vanaf af 17:00 – 18:00 op Pretoria FM 104.2 FM (DStv-kanaal 887) uitgesaai word. Dit is in die Klankkoerant laatmiddag-tydgleuf en sal ook op ander gemeenskapsradiostasies soos Radio Dagbreek, Radio Drakensberg, Radio Kransberg, Radio Naboomspruit, Radio Tafelkop, Radio Wolkberg, Radio Ysterberg, Kosmos Stereo, Med FM,       Lichvaal Stereo, Radio Orania en Whale Coast FM gevolg kan word.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid, gaan ’n inleiding gee oor die organisasie se veldtog teen plaasaanvalle en -moorde en ook die brief wat aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur is, bespreek.

Daarna gaan Hennie Human, ’n predikant en traumaondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid, vertel watter impak ’n plaasaanval op die slagoffer en sy gesin het en hoe dit hulle geestesgesondheid beïnvloed.

Human gaan ook oor die eenheid se betrokkenheid by slagoffers gesels waarna hy die gebed sal lei.

Slagoffers van plaasmoorde en –aanvalle beleef enorme  trauma, worsteling, diepe verlies, fisieke en innerlike pyn tydens en ná ’n aanval.

AfriForum doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om hierdie uur af te staan om saam vir boere in die land te bid.

“God het altyd tyd om te luister as jy tyd het om te bid. As ons ons hande in gebed saamvou, maak God sy hande oop. Boere is in nood en duisende gesinne is gebroke. Hulle het ons nodig en ons moet vir hulle in gebed tree,” sê Human.

AfriForum het in die lig van die regering se ontkenning van plaasmoorde, sy bewusmakingveldtogte plaaslik en internasionaal verskerp.

Die organisasie het vroeër die Wilmien Potgieter-fonds, ’n ondersteuningsfonds vir kinderslagoffers van plaasmoorde, met die toestemming van die familie gestig.

Wilmien en haar ouers, Wilna en Attie, se verhaal het die land in 2010 tot stilstand geruk. Die tweejarige Wilmientjie en haar ouers is in Desember wreed op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor. Wilmientjie is met ’n skerp voorwerp op haar kop geslaan voordat sy geskiet is. Attie het 151 steek- en ander wonde aan sy liggaam gehad. Wilma, is soos hy, ook brutaal gemartel voordat sy in die nek geskiet is.

’n Dokumentêre film oor dié gebeure is ook deur AfriForum en Forum Films vervaardig om groter bewustheid te skep. Dit is nie vir sensitiewe kykers bedoel nie. Dit kan hier gekyk word.

AfriForum-lede word aangemoedig om dit ook internasionaal te deel.

Daar was sedert die begin van Junie vanjaar ten minste 40 plaasaanvalle en minstens vier mense is in die eerste week van Julie op plase vermoor.

Benewens die bewusmakingsveldtogte moedig AfriForum boere ook aan om hulself te bewapen en by plaaslike veiligheidsaksies betrokke te raak om hulle, hul gesinslede en gemeenskappe te help beveilig.

Lees die volledige brief aan Ramaphosa hier.

Soortgelyke plasings