Gautengse ouers moet vroegtydig registreer vir 2020-skooljaar


Die burgerregtewaghond AfriForum het ná talle pogings uitgevind dat die Gautengse skoolregistrasieplatform op 13 Mei 2019 vir die 2020-skooljaar open.

AfriForum doen ’n dringende beroep op ouers om nie die kans te laat verbygaan nie en hul kind(ers) onmiddellik op 13 Mei vir die 2020-skooljaar te registreer.
Die voorgestelde skoolregulasies vir die 2020-skooljaar is in Maart vanjaar goedgekeur nadat daar verlede jaar baie teenkanting teen hierdie verandering was. Ouers moet weet hoe hierdie veranderings hul kind(ers) en voorkeurskole beïnvloed.
Die veranderings sluit onder meer in dat die taal van onderrig nie belangrik is nie, wat beteken dat enige kind in enige skool geplaas kan word selfs al is hul nie die onderrigtaal van die skool magtig nie.
Kinders kan ook in enige skool in ’n 30 km-radius geplaas word, wat talle vervoer- en ondersteuningsprobleme vir sowel ouers as kinders gaan meebring.
Beheerliggame se magte word drasties ingeperk deur hierdie regulasies en ouers en leerders gaan nie genoegsaam deur die skoolbeheerliggaam verteenwoordig word nie.

“Panyaza Lesufi hou egter vol met sy transformasie- en integrasieplan by skole. Die probleem is dat die gehalte van onderrig in Gauteng nie gaan verbeter met meerrassige, geïntegreerde skole nie, maar liewer met meer fokus op moedertaalonderrig en die bou van meer skole om sodoende ’n gunstiger leeromgewing vir leerders in Gauteng te skep,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“AfriForum beplan ’n omvattende veldtog om ouers by te staan met die aanlyn registrasieproses. Ons moedig ouers aan om op hoogte te bly van alle inligting oor die registrasieproses om sodoende te voorkom dat jou kind(ers) ’n slagoffer van hierdie stelsel word. Dit kan negatiewe gevolge vir jou kind(ers) se hele skoolloopbaan inhou,” sluit Bloem af.

Vir meer inligting oor die aanlyn registrasieproses en regulasies, besoek AfriForum se webtuiste onder die afdeling “VIR SKOLE” of http://bit.ly/2UnzpwY.

Soortgelyke plasings