Gauteng-prestasies nie aan Lesufi te danke


AfriForum wens alle matrikulante, onderwysers en ouers in Gauteng hartlik geluk met hul uitsonderlike prestasie en harde werk. Dit het alles bygedra tot die hoë suksessyfer wat Gauteng as provinsie behaal het en hom heel bo aan die lys plaas wat 2018 se matriekuitslae betref.

Talle matrikulante van regoor Gauteng is vandag by die bekendstelling van dié provinsie se uitslae by Unisa in Pretoria vereer.
Tshwane-Suid is aangewys as die distrik met die hoogste slaagsyfer in Gauteng met 91,2%. Dié prestasie kan toegesryf word aan puik skole, toegewyde onderwysers, goeie moedertaalonderrig en beheerliggame wat aanvullende aanstellings moontlik maak en dus verseker dat leerders meer aandag kry vergeleke met oorvol landelike skole.

“Dit is egter ironies – leerdergetalle en moedertaalonderrig is juis twee van die kwessies wat Panyaza Lesufi, die LUR vir Gauteng-onderwys, deurgaans in 2018 aangeval het. Gauteng se hoë prestasies kan dus nie aan Lesufi te danke wees nie, maar ten spyte van hom,” sê Carien Bloem, AfriForum se koördineerder vir onderwys.
Mnr. Solly Msimanga, burgemeester van die Tswane-metropool, het wel daarop gewys dat daar meer aandag aan gehalte in skole en tegniese skole gegee moet word om die land vir die nuwe ekonomiese era voor te berei. “Al die skole is nie op dieselfde standaard nie en skole moet ’n toonbeeld wees van die goeie produk wat Gautengse skole wil oplewer,” het Msimanga gesê.
“AfriForum beaam Msimanga se stelling en is bly dat die kwessie van te min skole, asook wanfunksionele skole, nie ongesiens verbygaan nie. Ontwikkeling ter bevordering van werkskepping en ekonomiese groei word vir Gauteng beplan, maar daar moet egter gewaak word om nie op ’n gekraakte fondasie te probeer voortbou nie,” meen Bloem.
Bloem noem verder dat talle leerders in Gauteng nie hul skoolloopbaan voltooi het nie en dus nie eers oor basiese kwalifikasies beskik nie. “Dit is kommerwekkend in die lig van die problematiese werkloosheidsyfer wat die land en die provinsie reeds in die gesig staar.”

Soortgelyke plasings