Gauteng-onderwys stuur op ramp af met Lesufi terug aan die stuur


Die burgerregtewaghond AfriForum is teleurgesteld in David Makhura, premier van Gauteng, se besluit om Panyaza Lesufi vir ’n tweede termyn as LUR vir onderwys in Gauteng te herroep nadat Lesufi aanvanklik as LUR vir finansies en e-regering in Gauteng sou optree.

Lesufi maak geen geheim daarvan dat hy Afrikaanssprekendes minag en Afrikaanse skole teiken nie en sy tweede termyn sal sy politieke heksejag voortsit. Dít ten spyte daarvan dat hy reeds in sy eerste termyn nie oplossings vir ernstige probleme – soos die behoefte aan gehalte-onderrig, genoeg skole en die ontwikkeling en toepassing van moedertaalonderrig vir alle kinders in Gauteng – kon bied nie.
Sy poging die afgelope vyf jaar om voornemende graad 1- en 8-leerders met ’n aanlynstelsel te registreer, het ook eindelose probleme opgelewer.
Hy dryf verder sy politieke agenda baie sterker as om die nodige aandag aan onderwysprobleme in Gauteng te gee.

“Dít is absoluut tragies, want so lank as Lesufi aan die stuur van  onderwys in Gauteng is, sal onderwys en onderrig in Gauteng nie regverdig benader word nie. Die stryd vir wedersydse erkenning en respek vir mekaar sal steeds voortduur, ter wille van die ontwikkeling van ons kinders,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“AfriForum sal voortgaan om vir moedertaalonderrig te veg, en Lesufi se ideaal om alle skole in Gauteng te verengels teen te staan,” sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings