|

Gauteng-aanlynskoleregistrasies uitgestel na 20 Mei danksy AfriForum en SOS

Die Gautengse onderwysdepartement gaan hul aanlynregistrasieaansoeke van 13 Mei 2019 na 20 Mei 2019 uitstel om regstellings aan dié stelsel te maak.

Dít volg nadat AfriForum en die Solidariteit Beweging se Skole Ondersteuningsentrum (SOS) ’n dringende prokureursbrief aan die departement gestuur het waarin hulle vra dat die stelsel aangepas of die proses uitgestel word tot die stelsel hersien kan word.

Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, is beide organisasies bekommerd oor die wyse waarop die aanlynskoleregistrasieplatform opgestel is. “Volgens die departement en proeflopiestelsel maak die stelsel glad nie voorsiening daarvoor dat ouers self kan besluit watter skool hul eerste keuse vir hul kinders is nie. Die skool wat geografies die naaste aan die ouers se huisadres is, word eenvoudig as primêre keuse aangebied, ongeag van die skool se onderrigtaal, vakaanbod of selfs koshuisopsies.”

Verder voel albei organisasies ook baie sterk daaroor dat leerders wat vanjaar reeds vir gr. R by ’n laerskool geregistreer is, voorkeur moet kry vir gr. 1-plasing in dieselfde laerskool in 2020.

Volgens Bloem beskou AfriForum hierdie nuus as ’n reuseoorwinning en verwelkom die organisasie ook die onderwysdepartement se besluit om die proses uit te stel en probleme aan die stelsel reg te maak.

Ingevolge die onderwysdepartement se aankondiging verlede maand sal aanlynaansoeke in die volgende prioriteitsorde geëvalueer word:

  • Die adres naaste aan die skool in die voedingsgebied;
  • Of die voornemende leerder ’n broer of suster in die skool het;
  • Die werkadres van minstens een van die ouers in die sone;
  • Of die huisadres binne 30 km van die skool is; en
  • Of die huisadres verder as 30 km van die skool is.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) gaan ook dié regulasies betwis en het die departement van onderwys genader om die toepassing daarvan uit te stel sodat ernstige probleme uitgestryk kan word. Luidens mediaberigte het die SAOU in ’n skrywe gesê hy is slaggereed om tot ’n regstryd toe te tree en het reeds sy regsverteenwoordigers opdrag in dié verband gegee.

 

Soortgelyke plasings