Gauteng-aanlynskoleregistrasieplatform stel weer eens teleur


Die burgerregtewaghond AfriForum verneem met teleurstelling dat die Gauteng-aanlynskoleregistrasieplatform vir gr. 1- en gr. 8-leerders vir die 2020-skooljaar weer eens nie foutloos funksioneer nie.

AfriForum het reeds talle klagtes ontvang van ouers wat sukkel om op die stelsel in te kom of om die stappe op die stelsel uit te voer omdat die stelsel gedurig vashaak. Dit volg nadat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gister tydens ’n mediakonferensie oor die stelsel uitdruklik gesê het die stelsel kan tot 65 000 aansoeke per minuut hanteer.
Die grootste probleme met die aanlynaansoekproses is dat die stelsel nie die ouers se huis- of werkadresse wil verifieer nie. Dit veroorsaak dat ouers nie hul kinders kan registreer met enige van die eerste drie keuses op die stelsel nie – eerste keuse huisadres, tweede keuse sibbe in die skool en derde keuse ouers se werkadres.
Talle ouers is nou bekommerd aangesien hulle slegs kon registreer om op waglys vier of vyf geplaas te word.
Edward Mosuwe, hoof van die Gautengse onderwysdepartement, sê hulle wou nie die aanlynstelsel voor Maandag 20 Mei open vir toetsings nie, want dan moes hulle dalk weer veranderings maak.

“Lesufi wys gou vingers na partye wat altyd probleme het met die stelsel en beskuldig hulle dat hul leuenaars is of alewig vir Afrikaans se voortbestaan wil veg. ’n Mens kan ongelukkig ook net wonder oor die suiwerheid van Lesufi se motiewe aangesien dit lyk of die stelsel nie aangepas is met die nodige deeglikheid soos ooreengekom nie,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“Ons wil ouers aanmoedig om AfriForum asseblief in kennis te stel van enige probleme wat hulle met die aansoekproses ervaar,” voeg Bloem by.

Ouers kan klagtes stuur na onderwys@afriforum.co.za. Volg ook die verloop van die aansoekproses op AfriForum se webtuiste onder die skakel Gauteng-aanlynregistrasies 2020 of op sosiale media onder die hutsmerk VIRSKOLE (#VIRSKOLE).

Soortgelyke plasings