|

Gaan stem vir beheerliggame om gehalte-onderrig te verseker

Die skoolbeheerliggaamverkiesing wat vandeesmaand (Maart) oor die lengte en breedte van Suid-Afrika gehou word, is van kardinale belang vir onderwys in die land.

Volgens die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) word dit algemeen as die derde grootste verkiesing in Suid-Afrika beskou. Daar is meer as 24 000 stemlokale en meer as 300 000 beheerliggaamlede sal verkies word waarvan die meerderheid ouers sal wees.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet, wet 84 van 1996, beheer onderwys in ons land. Dit is een van die mees progressiewe onderwyswetgewing en gee aan Suid-Afrikaanse ouers meer seggenskap oor hul kinders se opvoeding as in enige ander land in die wêreld. Elke ouer het die reg en verantwoordelikheid om ’n verskil te maak, sê Fedsas.

Ouerbetrokkenheid is ook veral noodsaaklik in die lig van die voorgestelde omstrede wysigingswetsontwerp op basiese onderwys wat daarop gemik is om die magte van beheerliggame geheel en al in te perk. Een van die veranderinge is byvoorbeeld dat die bepaling van ’n skool se taal- en toelatingsbeleid van skoolbeheerliggame na provinsiale owerhede moet verskuif. Dit moet ten alle koste beveg word ten einde gehalte-onderrig in openbare skole te behou.

As ouers ’n positiewe bydra tot hul kind se opvoeding wil lewer, sal hulle aan die verkiesings deelneem én verseker dat die mees geskikte kandidate op die beheerliggaam verkies word wat vertroud is met wat van hulle verwag word én wat bereid is om onbillike versoeke van die onderwysdepartement teen te staan. Hulle moet veral kundig ten opsigte van finansiële, regs- en onderwyskwessies wees.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, sê ouers moenie skroom om hulself vir die verkiesings beskikbaar te stel nie, aangesien die sukses van ’n beheerliggaam afhang van die kundigheid van die persone waaruit dit saamgestel is.

Beheerliggame verteenwoordig elkeen in die skoolgemeenskap, van ouers, onderwysers, leerlinge tot personeellede wat nie klas gee nie.

Die termyn van beheerliggame is drie jaar.

 

Soortgelyke plasings