|

Gaan die Korona-virus krisis nugter tegemoet

Suid-Afrikaners praat feitlik oor niks anders as Covid-19 nie.

Dit kan ’n mens begin dreineer en uitput, selfs al het jy nie een van die simptome van die gevreesde Korona-virus nie.

Die regering het ’n noodtoestand afgekondig en in die lig van soortgelyke optrede en besluite deur ander regerings in die wêreld, was dit die regte ding om te doen.

Maar wat nou? Dié vraag beantwoord mense maar op die unieke en uiteenlopende wyses hoe hulle in tye van nood en krisisse optree en dink. Party mense raak paniekerig en bestorm winkels om noodvoorrade vir maande aan te koop, ander raak verlam en kan niks doen nie, terwyl sommiges se oorlewingsdrang totaal oorneem en hulle bykans tot ekstreme optrede wil oorgaan.

Covid-19 is egter nie die eerste ramp of oorlog wat die mensdom tref nie. Deur die eeue heen het die mens darem ook al begin leer wat om in tye van totaal onvoorsiene omstandighede te doen.

Die belangrikste wat ons as Suid-Afrikaners sekerlik nou kan doen, is om sover moontlik kalm te bly. In tye van krisis moet mense kophou. Dit is nou die tyd om nugter te dink, by moeilike omstandighede aan te pas en te alle tye die regte ding te doen. Die land het nie nou doemprofete óf selfaangestelde helde nodig nie. As daar ooit ’n tyd was wat ons moet saamstaan en as gemeenskappe na mekaar moet uitreik en mekaar moet help, is dit nou.

Covid-19 het die potensiaal om een van die grootste ekonomiese rampe in die onlangse geskiedenis van die wêreld te word. Wêreldwyd word alles gesluit of afgestel. Mens kan jou nou maklik die heel, heel ergste begin verbeel. Daarom is dit belangrik om op die onmiddellike, naamlik vandag, te fokus. Fokus op wat jy vandag moet doen om vandag te oorleef. Wanneer ’n mens dit doen, raak jy van jou innerlike krag bewus om struikelblokke een vir een te oorkom. Moenie toegee aan jou vrese vir môre nie. Dit gaan nie help nie. As jy aan môre dink, moet dit wees om planne te beraam.

Die feit dat meer as 6 500 wêreldwyd tot dusver weens Covid-19 dood is, konfronteer een en elk van ons ook met ons eie sterflikheid. Dit is nie onnatuurlik nie, want uiteindelik sterf almal van ons een of ander tyd.

Om terug te keer na nugter denke, is dit belangrik dat niemand van ons Covid-19 moet oor- of onderspeel nie. Ons moet te alle tye ingelig wees en dienooreenkomstig ons optrede en besluite rig en beplan. In ’n tyd wat sosiale media die wêreld oorgeneem het, is dit belangrik dat ons nie deur fopnuus meegesleur word en begin oorreageer nie.

As mens egter ’n krisis onderskat, berei jy nie daarvoor voor nie. Daarom is dit baie belangrik om gehoor te gee aan basiese riglyne wat neergelê is om mense teen die verspreiding van die virus te beskerm. Kom ons was ons hande meer en vermy kontak sover moontlik. En kom ons doen alles moontlik om gesond te bly. Covid-19 vereis van ons burgerlike verantwoordelikheid. As die algemene reël is om alle byeenkomste waar meer as honderd mense byeen is uit of af te stel, is dit die regte ding om te doen. Vir onsself, vir ons geliefdes en vir almal in die land.

Deur die eeue heen het mense geleer dat daar basies ses waardes is wat in tye van nood ’n verskil maak, naamlik menslikheid, gehoorsaamheid, geregtigheid, fatsoenlikheid, lojaliteit en wedersydse respek. As ons almal mekaar se belange in hierdie krisis op die hart dra en vir mekaar omgee, kan ons by die punt kom waar dinge ten goede uitwerk.

Soortgelyke plasings