|

Forum Tydskrif propvol AfriForum-nuus nou beskikbaar

Deur Alet Rademeyer

2016 is byna iets van die verlede.

In vele opsigte was dit ’n warboeljaar met ontstellende gebeure op talle terreine plaaslik en internasionaal.

Op eie bodem is Suid-Afrikaners onder meer gekonfronteer met openbare universiteite wat in oorlogsones verander het, regeringleiers en politici wat onverpoosd met selfverryking en korrupsie voortgegaan het en ’n ekonomie wat maar net nie wou kop optel nie.

Internasionaal het menseregtevergrype en nood in lande soos Sirië gereeld skokgolwe deur die wêreld gestuur, terwyl die Amerikaanse verkiesingsuitslag met Donald Trump as nuwe president vir miljoene mense waarskynlik die verrassing van die eeu was.

Terwyl storms gewoed het, het AfriForum as burgerregte-organisasie hom nie van stryk laat bring nie. Die stryd vir die behoud van Afrikaans en die beskerming van minderhede se grondwetlike regte, hul kultuur en erfenis is met mening en durf aangepak.

Hoewel daar terugslae was, kyk die organisasie terug op ’n jaar waarin daar ook oorwinnings behaal is en waarin die ideaal van selfdoen en selfstandigheid momentum gekry het.

In dié uitgawe van Forum Tydskrif kan lede lees oor wat vermag is om die lewensomstandighede van mense in stede en op die platteland te verbeter deur by selfdoen-aksies betrokke te raak. Een van die hoogtepunte vanjaar was die Maand van Selfstandigheid-veldtog waartydens stoptekens opgerig, kruisings geverf en katogies aangebring is.

AfriForum het ook ’n teenkorrupsie-eenheid op die been gebring wat in 2017 ’n enorme taak sal aanpak om korrupsie op hoë vlak te takel en die nekslag toe te dien. Inligting oor die strafregtelike klagtes wat teen pres. Jacob Zuma en ander ingedien is ná die bekendmaking van die staatskapingsverslag, is ook in die tydskrif.

Die organisasie, wat deel van die Solidariteit Beweging is, is ook gereed om te kyk hoe die kommerwekkende situasie by universiteite gaan uitspeel en hoe sy strategie hier rondom aangepas moet word. Lees gerus meer oor die tienpunt-plan in die tydskrif.

AfriForum-lede kan ook lees wat die ekonoom Dawie Roodt vir 2017 voorspel.

Op ’n ligter noot is daar ’n resensie oor die riller-komedie Hoener met die Rooi Skoene wat in Januarie in teaters begin draai, die Voortrekkers wat reeds 85 jaar lank koers hou en groot projekte wat die jeug aangepak het om erfenisterreine te verbeter.

Dit was ’n jaar van groot uitdagings, maar ook geleenthede. Geleenthede wat AfriForum aangegryp het om te help bou aan ’n beter toekoms in Suid-Afrika.

Forum Tydskrif kan ook volgende week aanlyn gelees word by www.forumtydskrif.co.za

Soortgelyke plasings