|

Film oor ANC-geweld noodsaaklik om geskiedenis in perspektief te plaas

Forum Films se dokumentêr oor die ANC se gewelddadige optrede as bevrydingsbeweging het fliekgangers in Pretoria gisteraand aangegryp.

Tainted Heroes is die eerste film van Forum Films wat deel van die burgerregte-organisasie AfriForum is.

Dit vertel die verhaal van die ANC se oneerbare verlede en vergrype vanaf 1976 met die Soweto-opstande tot en met die inhuldiging van Nelson Mandela in 1994.

Die film is gebaseer op die boek People’s War van dr. Anthea Jeffery, senior navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV). Dit fokus op die ANC se strategie om die mag te bekom het deur middel van geweld, betogings, moorde, halsmoorde, boikotte, opstande, ondergrondse selle en die plant van bomme wat tot onskuldige mense se dood gelei het. Die film wys ook hoe die ANC geweld, vrees en propaganda teen politieke teenstanders soos die Swart Bewussynsbeweging en die IVP gebruik het om hom as die enigste verteenwoordiger van swart aspirasie in Suid-Afrika te vestig.

Meer as 500 gaste, waaronder talle meningsvormers in die land, het die première bygewoon. Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP en Strike Thokoane, adjunk-president van Azapo, wat belangrike bydraes tot film gelewer het, was ook onder die gaste.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het na afloop van die film gesê dit is noodsaaklik dat die wêreld kennis neem van die feit dat die ANC deur propaganda en ’n seleksie van feite ’n prentjie skep wat verskil van die werklikheid. “Die film is nader aan die werklike realiteit van wat gebeur het en dit sal bydra om balans te bring.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, meen die film wys op die realiteit van swart geweld toe, terwyl dit vandag steeds voortduur.

Prof. Rabelani Dagada, DA-raadslid, politieke ontleder en dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê die inhoud van die film hou ’n bedreiging vir die ANC in. Hy meen egter dit is noodsaaklik dat daar nie by dié verlede en deel van die land se geskiedenis vasgeval word nie. “Ons moet erken wat gebeur het, maar ons beywer om die demokrasie te maak werk. Daar is ’n persepsie dat net die ANC die land bevry het. Dit is verkeerd. Wit en swart het dit gedoen deur te onderhandel. As dit nie gebeur het nie, was ons nie vandag hier nie.”

Steve Hofmeyr, akteur, sanger en aktivis, het gesê: “Die film is ’n grafiese argief wat die totale laagtepunte uitbeeld van mense wat by apartheid moes oorneem. As jy steeds dink die somtotaal van Suid-Afrika se geskiedenis is dat een groep skuldig is en die ander onskuldig, sal dié film dit vir jou regstel.”

Katlego Chale, akteur in Tainted Heroes, het gesê die film gaan sonder twyfel omstrede wees. “Dis belangrik dat die storie vertel word. Dis deel van die geskiedenis wat ons nie op skool vertel is nie. Mandela is as ’n held sonder blaam voorgehou. Daar is baie mense wat nie weet van die geweld waarby die ANC betrokke was nie en vir ons demokrasie is dit nodig dat mense kennis daarvan neem. As die inhoud in die film nie waar is nie, moet die ANC na vore kom en die teendeel bewys.”

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, meen die film is baie ewewigtig en plaas die geskiedenis van Suid-Afrika sedert die sestigerjare tot en met demokrasie in 1994 in ’n beter perspektief as wat groepe soos die ANC voorhou.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en vervaardiger van Tainted Heroes, het gesê die projek is aangepak om die politieke debat in die land in perspektief te plaas. “Met die film wys ons die geskiedenis is nie so eenvoudig nie en dat daar ’n narratief bestaan wat vandag onder die mat ingevee word.”

Die film sal later vanjaar in sekere teaters vertoon word, terwyl ’n wêreldtoer ook in die vooruitsig gestel word. Vir meer inligting kan die webblad www.taintedheroes.co.za dopgehou word.

 

 

Soortgelyke plasings