|

Fase 6-beurtkrag: AfriForum en die publiek had genoeg van Eskom-probleme

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die publiek ’n direkte platform gegee waar hulle hul onvergenoegdheid met Eskom se stand van sake kan lug – veral met die ongehoorde inwerkingstelling van fase 6-beurtkrag.

AfriForum se tong-in-die-kies-petisiebrief werf die publiek se ondersteuning en lys verskeie eise waaraan sowel Pravin Gordhan en Gwede Mantashe – onderskeidelik minister van openbare ondernemings en van minerale en energiehulpbronne – as Jabu Mabuza, waarnemende uitvoerende hoof van die Eskom-groep, redelikerwys kan voldoen.

Die eise sluit die volgende in:

  • Om die ontbondeling van Eskom in drie afsonderlike entiteite te bespoedig, met spesiale fokus op die aanstel van senior bestuurslede wat op meriete gebaseer is, asook die uitroei van korrupsie;
  • Om die ondertekening van kontrakte met ware onafhanklike kragverskaffers te bespoedig sodat bekwame, kundige en bereidwillige privaat energieverskaffers krag aan ’n mislukkende, staatsbeheerde energienetwerk kan verskaf;
  • Om Eskom te dwing om kommunikasie met die Suid-Afrikaanse publiek te verbeter, aangesien waarskuwings 20 tot 30 minute voor die inwerkingstelling van fase 2-, 3- of selfs 6-beurtkrag onredelik en onaanvaarbaar is; en
  • Om Eskom te dwing om die intydse status van elkeen van sy kragopwekkingseenhede met die publiek te deel sodat die Suid-Afrikaanse publiek sy eie afleidings oor die moontlikheid van beurtkrag kan maak. Op dié stadium word onbeplande onderbrekings van minder as 10 000 MW onder die dekmantel gehul, hoewel dit steeds enorme probleme tot gevolg het. Die verlies aan selfs twee of drie opwekkingseenhede (wat meer gereeld voorkom as wat dit behoort voor te kom) kan baie maklik tot die inwerkingstelling van fase 2-beurtkrag lei. Eerder as om die publiek oor ’n beperkte netwerk van om en by 10 000 MW se onbeplande onderbrekings te begin waarsku, behoort Eskom gedwing te word om die publiek intyds oor die presiese status van sy kragnetwerk op hoogte te hou.

Die brief versoek ook die drie bogenoemde ampsdraers om die volgende vrae te beantwoord:

  • Het u op enige vorm of wyse die toestand voorsien dat Eskom gedwing sou word om op Maandag 9 Desember 2019 fase 6-beurtkrag in werking te stel? Indien nie, waarom nie?
  • Wat kan Suid-Afrikaners realisties gesproke verwag wat betref die elektrisiteitstelsel vir die res van 2019 en in 2020?

AfriForum is daarvan oortuig dat lede van die publiek – veral met die feestyd om die draai – daarop geregtig is om ’n bestendige elektrisiteitsvoorsiening te hê, asook antwoorde van die persone wat daarin gefaal het om dit te lewer.

Om die brief te onderteken, besoek asseblief die volgende skakel: https://afriforum.co.za/fase-6-beurtkrag-afriforum-en-die-publiek-het-genoeg-gehad-van-eskom-probleme/.

Soortgelyke plasings