Eskom-skuldstyging wys privaat kragvoorsiening is nodiger as ooit


Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy kommer uitgespreek oor Eskom se skuld wat met 13,6% tot R367 miljard gestyg het. Die kragvoorsiener se finansiële state vir die halfjaar tot einde September toon ook dat sy inkomste vir dié periode met 2% tot R95,5 miljard gedaal het.

“Terwyl daar begrip kan wees vir die lae 2,2% elektrisiteitstariewe wat vir die 2017/2018-boekjaar deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur is, asook vir munisipaliteite wat Eskom geld skuld, is hierdie groeiende skuld nie slegs daaraan te wyte nie. Wanadministrasie, korrupsie en uitermatig hoë bonusse vir die vorige direksie en bestuur het ook ’n reuserol gespeel,” sê dr Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.
Brink sê Eskom het tans steeds ’n staatswaarborg van R350 miljard en dat nog reddingsboeie ongeregverdig is in die lig van die kragvoorsiener se probleme en gebrek aan prestasie. “Daar is wel ’n nuwe direksie aangestel en die vrot appels is besig om te verdwyn, maar gemeenskappe het té lank al vir Eskom se selfgeskepte probleme opgedok. Eskom sal nou eers moet bewys dat hulle self iets daaraan kan doen en daarom moet die vergoeding van die topbestuur hersien word terwyl onreëlmatighede met onder meer die voorgeskrewe voorsieningskettingbestuursproses ook dringend aangespreek moet word,” sê Brink.
Brink voeg by dat AfriForum sal aanhou om druk op Eskom toe te pas om sy sake in orde te kry en lewer ook ’n pleidooi dat daar groter ruimte vir privaat kragvoorsiening toegelaat word. “Eskom se probleme is ernstig en hulle het ’n beperkte vermoë om krag aan ’n sterker ekonomie en gemeenskappe te verskaf. Daarom is privaat voorsiening ál meer ’n noodsaaklikheid,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings