Eskom ontkoppel onwettige kragkoppelings in Grabouw


Eskom het op 1 Maart 2017 onwettige kragkoppelings in Blikkiesdorp, die informele nedersetting buite Grabouw, ontkoppel nadat AfriForum op 2 Februarie vanjaar ’n klag van strafbare manslag teen Matshela Koko, die waarnemende hoof uitvoerende beampte van Eskom, by die Grabouw-polisiestasie aanhangig gemaak het.

“Ons was baie bekommerd oor ’n kleuterskool waar etlike van dié drade deur die lug aangelê is,” sê Sias van Tonder, ’n plaaslike AfriForum-lid.

Van Tonder het die afgelope maand daagliks pleidooie per e-pos gerig aan Davy Louw, waarnemende munisipale bestuurder van die Theewaterskloof Munisipaliteit, om ten minste die kleuterskool te ontruim.

“Ek is dankbaar dat die kleuterskool uiteindelik op 27 Februarie ontruim is, want dit sou ’n tragedie gewees het as dié onwettige koppelings tot beserings of selfs sterftes gelei het,” sê Van Tonder.
“Die ontkoppeling van die kragkabels deur Eskom is ’n bewys dat ’n gemeenskap wat saamstaan en met burgerregte-organisasies soos AfriForum saamwerk, druk op die regering en ander rolspelers kan uitoefen sodat daar uiteindelik aan die gemeenskap se eise gehoor gegee word. Ons is dankbaar dat daar intussen nie weer ’n gebeurlikheid was waar iemand as gevolg van die onwettige koppelings beseer is nie, en ons is verheug dat Eskom aan ons pleidooie gehoor gegee het,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap.
“AfriForum sal die situasie fyn dophou, aangesien ons daarvan oortuig is dat die inwoners van Blikkiesdorp nie die ontkoppeling van kragtoevoer na hul huise goedsmoeds gaan aanvaar nie,” sluit Van Dalen af.

Soortgelyke plasings