Eskom-beurtkrag bedreig lewens in Boshof


Die burgerregtewaghond AfriForum is van mening dat indien Eskom voortgaan om volgende week beurtkrag vanaf 6:00 tot 20:00 in die dorp te implementeer die inwoners van Huis Goedversorg, wat 24 uur van suurstof afhanklik is, se lewens in gevaar gestel sal word.

“Twee van die bejaardes in hierdie tehuis is afhanklik van suurstofmasjiene wat elektrisiteit benodig om te kan werk. Die tehuis moet ook 24 uur toegang tot elektrisiteit hê vir mediese bystand aan die inwoners – 32 van die 70 inwoners is verswakte bejaardes. Sonder elektrisiteit sal die tehuis ook nie vir die inwoners kan kosmaak of hulle wasgoed was nie. Indien daar nie elektrisiteit is nie, sal die inwoners ’n ander heenkome moet soek en sal 32 personeellede hul werk verloor,” sê Trudie Pieters, bestuurder van Huis Goedversorg.
Johan Steenkamp, voorsitter van AfriForum se Boshof-tak, sê verder dat hierdie krag­onderbrekings mense se lewensgehalte benadeel en dat die hele gemeenskap daaronder ly. “Dit het tot gevolg dat produktiwiteit in die dorp afneem, wat tot finansiële verliese lei en moontlik ook werksverliese tot gevolg kan hê.”
“Tokologo Plaaslike Munisipaliteit sal dringend samesprekings met Eskom moet voer oor hoe hulle sowel die huidige rekening as die agterstallige skuld gaan terugbetaal. Inwoners betaal hul elektrisiteitsrekenings, maar die munisipaliteit kom nie hul verpligting teenoor Eskom na nie en inwoners moet dan daarvoor boet,” sê Corné Cronjé, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

AfriForum is tans besig om te kyk hoe hulle die gemeenskap in die onderskeie dorpe – insluitend Boshof, Dealesville en Hertzogville wat onder die Tokologo Munisipaliteit sorteer – kan bystaan.
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskappe in die Tokologo-diensgebied om by AfriForum betrokke te raak en aktief deel te neem. Stuur ’n e-pos na corne.cronje@afriforum.co.za vir meer inligting hieroor.

Soortgelyke plasings