Spyskaart +

Eskom-bestuur se eerlikheid is nie genoeg

Februarie 6, 2018 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by Afriforum

Ofskoon die nuus oor Eskom die laaste ruk sekere positiewe aspekte bevat het, het dit veral hierdie week duidelik geword dat die treurmare van hierdie sleutelinstelling nog lank nie verby is nie. Trouens, hef aan lê voor.

Die finansiële state vir die halfjaar tot einde-September het uiters onrusbarende tendense getoon. Die tussentydse resultate wys dat die kragreus in elke finansiële maatstaf agteruitgeboer het vergeleke met ooreenstemmende periode in die vorige boekjaar. Inkomste uit verkope het byvoorbeeld met 2% tot R95.5 miljard gedaal. Die skuld het tot R367 miljard opgeskiet.

 

Eskom het darem nog ‘n staatswaarborg van R350 miljard wat baie van hierdie skuld kan dek, maar dit is klaarblyklik nie genoeg nie. Die ander probleem is dat ten spyte van die groot gewag daar van die nuwe direksie gemaak is, Eskom se kredietgradering nogtans ná hul aanstelling deur Moody’s en Fitch afgegradeer is. Eskom se verswakte likiditeitsposisie en swak vermoë om sy korttermynverpligtinge na te kom is vir hierdie besluite opgehaal.

Daarbenewens het Eskom se nettowins vir die onderhawige halfjaar tot R6 miljard gedaal en dit beleef ‘n kontantvloekrisis. Dit moet tans R10 miljard aan banke terugbetaal en teen die einde van die maand nog R10 miljard. Eskom se skuldverhouding is tans ‘n enorme 72% pleks van ‘n meer volhoubare 45% tot 50%.

Hierdie probleme het wel te doen daarmee dat dit vir die 2017-’18-boekjaar ‘n tariefverhoging van slegs 2.2% deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) toegestaan is. Die nuutste tariefverhoging – slegs 5.23% nadat Eskom vir bykans 20% aansoek gedoen het – is ook nie veel beter nie en hulle sal moet aanvaar dat Nersa en die belastingbetaler nie tot hul redding gaan kom indien hulle nie van plan is om te wys dat hulle hulself uit hierdie gemors kan kry nie.

Daar moet voorts in ag geneem word dat munisipaliteite wel vir Eskom groot bedrae geld skuld. Dit is bloot net nie volhoubaar vir ‘n maatskappy om voortdurend ‘n produk op groot skaal te lewer sonder om daarvoor te betaal nie. Dis korporatiewe selfmoord.

Maar dit is beslis nie die enigste, of selfs die primêre, rede vir Eskom se verknorsing nie. Korrupsie en wanadministrasie het lank amok gemaak met die kragvoorsiener se finansies. R31.3 miljard het net in die 2016-’17-boekjaar verlore gegaan weens onreëlmatighede met die voorsieningskettingsbestuursproses. Daar was veral reuse vermorsing met die bou van die Medupi- en Kusile-kragstasies. Miljarde is onreëlmatig vermors om Gupta-verwante maatskappye te bevoordeel terwyl reuse bonusse en oordadige vergoeding aan die vorige direksie en bestuur betaal is.

Dit lyk wel egter – minstens oënskynlik – asof Eskom nou onder beter bestuur staan. Die vrot Zuma- (en Gupta-) gesinde appels is ook besig om stelselmatig te verdwyn. Kom ons hoop dat dinge van nou af beter sal gaan, want ons kan dit regtig nie bekostig dat dit veel slegter gaan nie. Maar terwyl die nuwe waarnemende uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, en die nuwe Eskom-voorsitter, Jabu Mabuza, wyd geloof is vir hul eerlikheid oor Eskom se probleme, is dit nie naastenby genoeg om die skip om te keer nie.

Hadebe het weliswaar hoop geskep dat daar veranderinge kom met stellings oor banke se bereidwilligheid om weer met Eskom oor lenings te praat, maar hy het grootliks alle skuld op die vorige bestuur gepak. Uiteraard is dit nie verkeerd nie, maar ons moet nie in die strik trap deur eerlikheid – waarvan daar oor die laaste twee jaar heelwat te sien was deur ANC, staatsamptenare en politici – sowel as blaamverskuiwing – iets waarvoor die ANC en staatsamptenare nog altyd ontsaglik lief is – as deurslaggewende voorwaardes vir die oplos van probleme te beskou nie, terwyl hulle eintlik net nodige vereistes en beginpunte is. Dit is per slot van sake maklik om deesdae eerlik oor die Zuma-regering se veelvuldige mislukkings te wees – baie van hul eertydse ondersteuners is selfs vandag openlik krities oor hulle. Hierdie hartstogtelike eerlikheid is tewens geopenbaar terwyl sake net verder versleg het.

Die uiteindelike doel moet wees om die land van genoeg goedkoop krag te voorsien – nie om magtige mense se sakke te vul of ‘n monopolie oor kragvoorsiening te behou nie. Daarom moet die nuwe besems in die ANC en Eskom toesien dat Eskom eerstens beter bestuur word op die korttermyn, maar dat daar terselfdertyd groter beleidsruimte gegun word vir private kragvoorsiening sodat die land nie langer deur swak kragvoorsiening gyselaar gehou word nie. Trouens, hulle moet dit op enige manier denkbaar begin aanmoedig want dit sal die lakmoestoets van hul goeie bedoelinge en skynbare eerlikheid wees. Moet egter nie verwag dat dit goedsmoeds sal gebeur nie en daarom sal Afriforum voortgaan om druk uit te oefen sodat Eskom sy sake in orde kry, maar ook dat gemeenskappe toenemend self oor hul kragvoorsiening – en derhalwe hul toekoms – kan besluit.