Feit soos ‘n koei

Die gesaghebbende taalbron Ethnologue plaas Afrikaans in die topgroep van tale (EGIDS-vlak 1) omdat dit ontwikkel het tot waar dit gebruik en in stand gehou word deur instellings buite privaat huishoudings en in gemeenskapsverband.

Volgens die gesaghebbende taalbron Ethnologue is Afrikaans een van die 120 grootste tale in die wêreld. Daar is tans sowat 7 111 lewende tale in die wêreld.

In 2018 het die reiswebtuiste Lovin.ie bevind dat Afrikaans die aantreklikste taal in die wêreld is!
[Dit was eintlik sexyste, maar ek slaan maar die Anglisisme oor!]

Taalvasvra: Watter bekende Afrikaanse skrywer het ook onder die skuilname Adrienne du Toit en Chris van Lille geskryf?
[André P. Brink]

Taalvasvra: Wie was Mathys Gerhardus Smith?
[’n Skrywer van Afrikaanse kinderboekreekse soos Trompie (onder die naam Topsy Smith) en Saartjie (onder die naam Bettie Naudé).]

Afrikaanse skrywers is gewild in die buiteland. Deon Meyer se boeke het al in meer as 40 lande en meer as 20 tale verskyn.

Elke twee jaar word ’n “Week van de Afrikaanse roman” in Nederland en België (Vlaandere) aangebied. Dié Afrikaanse letterkundefees vind weer van 20 tot 29 September 2019 plaas.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is die bekendste verklarende Afrikaanse woordeboek. Dit het vir die eerste keer in 1965 verskyn en word sedertdien gereeld hersien. Die huidige uitgawe het 1 632 bladsye.

Die skeppers van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) benodig meer as R4 miljoen per jaar om hul werk voort te sit. Deur die jare heen het AfriForum woorde soos “taalregte” en “enkelmedium” geborg om tot die fondsinsamelingsaksies by te dra.