|

Elke plaasmoord: Dit kan jou seun, kind, pa of broer wees

Alet Rademeyer

Oor die afgelope 5 dae was daar 11 plaasaanvalle waartydens vier mense gesterf het en steeds weier Fikile Mbalula, minister van polisie, om die erns van dié krisis te besef.

In die lig hiervan het AfriForum vandag ’n burgerlike mosie van wantroue teen Mbalula van stapel gestuur. ’n Beroep word op alle Suid-Afrikaners gedoen om nou op te staan en te sê genoeg is genoeg en dat dié wrede aanvalle en moorde op die land se boere nie kan voortgaan nie. Hulle kan die petisie teken by www.stopdiemoorde.co.za

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het op ’n mediakonferensie gesê dit is baie duidelik dat Mbalula sy eie persoonlike en politieke agenda het. Sy weiering om die statistieke vir plaasmoorde gister in die parlement bekend te maak, wys op sy traak-my-nieagtige houding.

“Sedert sy aanstelling in Maart het hy nog niks gedoen om landelike veiligheid op te skerp nie. Inteendeel. Die minister se uitlatings was so verregaande dat hy daarop gesinspeel het dat daar na boere se veiligheid gekyk moet word net omdat hulle nie almal rassiste is nie. Dit kom neer op selektiewe geregtigheid en ons is diep bekommerd oor die minister se patetiese gedrag en houding.”

Roets het gesê sedert die begin van die jaar was daar minstens 347 aanvalle waartydens 68 mense vermoor is. Dit is meer as verlede jaar die tyd.

Lorraine Claasen, navorser by AfriForum se navorsingsinstituut, het gesê sy weet nie hoe Mbalula in die nag slaap nie. “Hy het al gesê hy wil nie by ’n debat oor plaasmoorde betrokke raak nie omdat daar boere is wat hul werkers aanrand.

“Ek wil vandag vir die minister sê die land is aan die brand. Ons is in ’n frustrerende posisie waar die minister en kommissarisse van polisie elke jaar verander. Van die planne wat daar is, kom absoluut niks. Waar is die landelike veiligheidsplan? Plaasaanvalle en –moorde is nie ’n probleem nie. Dis ’n ramp. Mbalula moet ophou praat van boere in aanhalingstekens. Elke boer is ook ’n werkgewer, ’n kosprodusent, ’n mens met ’n gesin en familie en ’n Suid-Afrikaner. Hulle verdien nie om so behandel te word nie.”

Steven Vermaak, direkteur van die Heritage Protection Group (HPG), het gesê niemand in ’n landelike gebied is veilig nie. “Mense julle moet wakker word.”

Van 2015 tot Januarie vanjaar was HPG by 145 voorvalle betrokke en 187 mense is gearresteer. Van Januarie tot nou was daar 36 gevalle wat tot 86 arrestasie gelei het.

HPG, wat hoofsaaklik in Limpopo en Mpumalanga werk, wil ook na die res van die land uitbrei.

Vermaak het ’n beroep op elke landsburger gedoen om na sy eie veiligheid te kyk en alles moontlik te doen om hulself te beveilig. “Moenie ongewensde mense aanstel nie. Moenie mense wat vir jou werk goedsmoeds vertrou nie.”

Hy het gesê in die sake wat hulle hanteer het, was in 94% van gevalle buitelanders betrokke. “Dit gaan oor geld en wapens. Mense moet weet dat hulle teikens is as hul geld en wapens in hul kluise het.”

Gawie Stols (35), die broer van Kyle Stols (21), ’n voorman van die plaas Hatari Game Breeders in Jagersfontein in die Vrystaat, het emosioneel vertel van die hel waardeur sy gesin gaan sedert Kyle Sondag alleen op die plaas in die bors en kop geskiet is. “Ek het 100 km gejaag om by hom uit te kom. Ek het gehoor hy is geskiet. Ek kon hom nie sien nie en ek kon niks vir hom doen nie.”

Volgens Stols was Kyle net ’n kind wat sy lewe voor hom gehad het. Hy is vir niks vermoor nie, want niks is gevat nie. “My ma wil nie meer leef nie, my pa is verpletter en wil nie praat nie en my oupa van 85 het kanker….ek weet nie hoe hulle dit gaan verwerk nie.”

Stols het die Volksblad waarin die berig oor Kyle verskyn het opgehou en gesê: “Al wat ek vandag vra, is kyk hier. Lees hier. Dit kan jou broer, seun of vriend wees. Dit is tyd dat die wêreld weet ons word om geen rede vermoor nie.”

Stols het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om nou saam te staan en vir mekaar om te gee. “Ons begrawe Kyle Vrydag. Kom kyk wat hierdie dinge aan ons as gewone mense doen.”

Soortgelyke plasings