Video: Elandsfontein-grondgrypers vandag danksy AfriForum verwyder

 

Grondeienaars in Elandsfontein in die suide van Johannesburg kan vanaand rustig slaap danksy ingryping van die burgerregte-waghond AfriForum wat vandag gehelp het om 60 onwettige informele huise van grond in dié omgewing te verwyder.

Dít volg nadat AfriForum verlede week ’n bevel in die hooggeregshof in Pretoria verkry het wat beslis dat dié onwettige plakkers onmiddellik die perseel moes verlaat.

Grondeienaars in Elandsfontein leef sedert 29 Mei daagliks in vrees nadat die eerste grondgrypers se plakkershut opgerig is. Hierna het al hoe meer mense informele huise begin oprig.

Die wettige eienaars van dié gedeeltes het vroeër vergeefs die De Deur-polisiestasie om hulp oor die plakkers genader. Volgens Clinton Gruar (39), ’n grondeienaar en verteenwoordiger van ander grondeienaars in die omgewing het ’n “sentrale mens” dele van die grond vir R250 verkoop.

Gruar het ook vertel dat die besetters gereeld inwoners gedreig het dat hulle  motorbande op hul huise se dakke sal pak en aan die brand steek sodat hul lewend in hul eie huise kan doodbrand.

Die gemeenskap het toe uit desperaatheid vir AfriForum om hulp genader.

“Hierdie situasie het weereens bewys hoe belangrik dis is dat grondeienaars hul regte moet ken en dat daar gebeurlikheidsplanne in plek moet wees sou onwettige grondbesetters mense teiken,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is dit ook bemoedigend om te sien dat AfriForum vandag ondersteuning uit verskeie oorde ontvang het. “Dit was ’n fantastiese dag van samewerking tussen AfriForum, die Johannesburgse Metropolisie, die DA, die Midvaal-munisipaliteit, die weermag en die Rooimiere, wat almal gehelp het om die afgebreekte strukture te verwyder.

“AfriForum vat graag hande met enigiemand wat ons wil ondersteun om mense te help wat deur onwettige grondgrypers geteiken word. Ons sal nie toelaat dat grondgrypers mense se eiendomsreg bedreig nie,” sê Cameron.

Soortgelyke plasings